(BLM-debat in parlement)
Die minister van sport, Nathi Mthethwa, se dreigemente teen sportmanne wat nie die knie voor die Black Lives Matter (BLM)-ideologie wil buig nie, is ongrondwetlik en verkeerd het die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, vandag in die debat oor BLM in die parlement gesê.
Die minister se uitlatings rakende sekere rugbyspelers is onaanvaarbaar vir die VF Plus. Suid-Afrika se Grondwet maak voorsiening vir vryheid van assosiasie en indien die minister dink hy kan deelnemers aan sport of enigiemand anders verplig om voor BLM te buig, onderwerp hy hulle aan Marxisme.
BLM is niks anders nie as ‘n Marxistiese beweging en dit is enige Suid-Afrikaner se grondwetlike reg om te weier om te kniel voor ‘n onaanvaarbare ideologie. Die VF Plus doen ‘n beroep op elke persoon wat nie die knie wil buig nie, om sterk standpunt hieroor in te neem en hulle te beroep op die Grondwet.
Die stigters van BLM is ‘n selferkende, radikale neo-Marxistiese beweging wat uit eie erkenning daarop uit is om Westerse waardes te vernietig en wat ‘n openlike anti-wit-veldtog voer.
Die George Floyd-voorval in Amerika laat die vraag ontstaan waarom dieselfde ophef nie gemaak word van die dood van die swart man Collins Khosa wat in Suid-Afrika doodgeslaan is deur swart soldate nie.
Oor Khosa se dood was daar geen oproer of onluste nie. Was dit straks omdat dit swart-op-swart-geweld was?
Die VF Plus is gekant teen enige vorm van polisie-brutaliteit of rassisme. Dit sluit enige wetgewing of instelling in wat ras as vertrekpunt gebruik. Volgens die VF Plus sou dít die wetgewing of instelling per definisie rassisties maak, soos alle wette rakende regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in Suid-Afrika.
Jong swart mense in die land sien dit as ‘n belediging om ‘n pos te kry bloot oor regstellende aksie. Hulle sê dit laat hulle minderwaardig voel aangesien hulle op ‘n gelyke voet met ander kan meeding.
Die VF Plus sal voor niemand kniel ter bevordering van enige beweging nie, maar sal net kniel voor die almagtige en voor geen ander mens of om geen ander rede nie en verwerp daarom die mosie van die EFF oor die aangeleentheid.
Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216