fbpx
Vryheidsfront Plus

Speurdienste in Gauteng se ondersoekwerk is nie op standaard

Die VF Plus is bekommerd oor die swak suksessyfer van die polisie se Gautengse speurdiens weens tekortkominge in die ondersteuningstelsel wat speurders verhinder om hul werk behoorlik te doen.

Luidens die 2019-2021-misdaadverslag kon die speurdiens in Gauteng slegs 28.65% verdagtes opspoor wat aan ernstige misdade verbind word.

Redes wat aangevoer word, is onbruikbare vingerafdrukke, probleme met die DNS-databasis en ander stelsels wat nie na behore funksioneer nie.

Die opsporingsyfer van verdagtes in huisrooftogte is 9.44%. Dié lae syfer word in die verslag toegeskryf aan die tekort aan toerusting, onbruikbare vingerafdrukke asook onvoldoende bewysstukke en leidrade.

Die lae suksessyfer moet ernstig deur die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, ondersoek word om ‘n voortsetting daarvan te vermy.

Uit die verslag is dit duidelik daar heers groot tekortkominge by die polisie se forensiese-afdeling en meer lede moet in spesialis-rigtings opgelei word. Die tekort aan toerusting en forensiese ontleders moet dringend aangespreek word om speurders se werk te vergemaklik.

Die VF Plus verstaan speurders se taak word bemoeilik wanneer slagoffers nie hul aanvaller kan identifiseer nie, of nie kan help met ‘n gesigsamestelling nie in gevalle waar daar ook nie ooggetuies is nie. Dit is juis hier waar die hulp van deskundiges nodig is.

Slagoffers van ernstige- en ander misdade, plaas hul hoop en vertroue op die polisie se ondersoekwerk en daarom het die polisie ‘n verantwoordelikheid om alles in sy vermoë te doen om sake suksesvol af te handel en ‘n volledige dossier aan die hof voor te lê.

In baie gevalle is ‘n landdros verplig om ‘n saak herhaaldelik uit te stel omdat forensiese verslae uitstaande is.

Die VF Plus gaan die polisiekommissaris versoek om ‘n verslag saam te stel en oplossings aan die Gautengse provinsiale veiligheidskomitee voor te lê.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.