Die VF Plus veroordeel die vernietiging van privaat- en staatseiendom deur gemeenskapslede wat swak dienslewering as verskoning gebruik vir die afbrand van die polisiekantoor in Mashishing en om paaie in en om Lydenburg met brandende bande af te sper en te beskadig.
Ontevrede inwoners het op 8 Maart voor die munisipale kantore in Lydenburg bymekaar gekom en onwettig protes aangeteken teen swak dienslewering, beweerde korrupsie met die toeken van HOP-huise en die vervalle water- en rioolinfrastruktuur van die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit (Graskop, Lydenburg, Mashishing, Pilgrim's Rest, Sabie).
Daar is ook gedreig dat die protesaksie in intensiteit sal toeneem indien die munisipaliteit sloer om aan die eise gehoor te gee.
Die VF Plus het intussen inligting bekom dat die betogings gaan uitbrei na die dorpe Sabie en Graskop indien die munisipaliteit nie reageer op die eise nie.
Beide die ontevrede gemeenskapslede en die munisipaliteit is besig met 'n baie gevaarlike speletjie van kat-en-muis ten koste van mense se vryheid van beweging met gepaardgaande groot skade aan privaat- en staatseiendom.
Terwyl gemeenskapslede besef dat die munisipaliteit uiteindelik met hulle sal moet praat, weet die munisipaliteit ook deur om dadelik te reageer, die indruk sal skep dat hy ingee voor misdadige optrede.
Die VF Plus is van mening dat indien die gemeenskappe van die Thaba Chweu-munisipaliteit hul omstandighede wil verbeter, hulle eerder die ANC-regering by die stembus moet straf en vervang met ‘n munisipale bestuur wat finansieel gedissiplineerd is en dienste aan almal sal verskaf.
Kiesers moet hul demokratiese reg gebruik om vir ‘n ander politieke party te stem en nie oorgaan tot die vernietiging van eiendom nie.


