Nadat die speaker van die parlement, Baleka Mbete, enkele weke gelede nie ‘n debat oor plaasmoorde wou toelaat nie, het sy haar besluit omgekeer en gaan die aangeleentheid nou vir ‘n eerste keer in die parlement bespreek word, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die speaker het die debat aanvanklik geweier omdat dit volgens haar nie as dringende genoeg en in nasionale belang geag is nie.
Hy het verlede week met haar hieroor gesprek gaan voer en sy het nou toegegee dat dit wel dringend en in openbare belang is en dat die debat reeds op 14 Maart (aanstaande Dinsdag) gaan plaasvind.
“Die VF Plus verwelkom dit dat die ANC-regering na duisende moorde en aanvalle, eindelik toegegee het dat hierdie ‘n saak van groot belang is wat gedebatteer moet word.
“Die speaker is daarop gewys dat dit nie net wittes is wat hierdeur geraak word nie, en dat die moorde en aanvalle ernstige gevolge inhou vir die veiligheid van die land in terme van voedselsekuriteit, die stabiliteit van die arbeidsmark en ekonomiese ontwikkeling in die algemeen.
“Wit en swart word aangeval en vermoor. Die moordsyfer van 133 boere uit elke 100 000 mense raak almal in die land.
“Ek het haar ook daarop gewys dat, veral in Februarie vanjaar, daar ‘n skerp toename was in die aantal moorde en aanvalle op plase.
“Ten spyte hiervan kon die nasionale polisiediens ook nie daarin slaag om sy landelike beveiligingsplan effektief uit te voer om landelik gebiede en die boeregemeenskap in die besonder te beskerm nie.
“Die moorde en aanvalle is ‘n tragedie. Die VF Plus verwelkom daarom hierdie geskiedkundige debat. Dit is van die grootste belang dat die publiek van Suid-Afrika weet wat politieke partye doen oor kwessies wat almal in die land direk raak,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403