fbpx
Vryheidsfront Plus

Soos met Eskom is ANC besig om land se watersekerheid ook te saboteer

Soos met Eskom gebeur het, is die ANC-regering weens skokkende argeloosheid besig om aktief mee te help om ook die land se watersekerheid te saboteer.

Deurlopende parlementêre vrae van die VF Plus oor die uitvoering van wetlike voorskrifte rondom die behandeling van rioolwater, maak dit duidelik dat munisipaliteite hulle bloot nie daaraan steur nie.

Van die departement van water en sanitasie (DWS) se kant is daar eweneens geen druk of optrede hoegenaamd teen die oortreders nie.

Die VF Plus het reeds in Julie vanjaar aangedring op optrede nadat die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, laat blyk het dat slegs dertien uit negentig munisipaliteite gereageer het op skriftelike aanmanings oor gebrekkige watersuiwering by munisipale wateraanlegte.

Dit was nadat die Groendruppel-verslag in Maart vanjaar bevind het dié munisipaliteite se watersuiweringstelsels is in ’n staat van ‘kritieke wanfunksionering’.

Elke munisipaliteit is met die publisering van die verslag sestig dae gegun om skriftelike planne voor te lê om hul probleem op te los. Dit is nie gedoen nie.

Die publisering van die Blou (gehalte van drinkwater)- en Groendruppel (gehalte van gesuiwerde rioolwater)-verslae is verlede jaar weer op aandrang van die VF Plus ingestel nadat dit laas in 2013/14 gedoen is.

In antwoord op die jongste vrae van die VF Plus blyk dit dat nog 15 munisipaliteite intussen gereageer het om planne voor te lê. Dit beteken dat 62 hulle steeds nie aan die wet of aanmanings steur nie.

Die VF Plus sal weer by die minister daarop aandring dat daar teen die rekenpligtige beamptes van die betrokke munisipaliteite opgetree word.

Gewone landsburgers wat landswette oortree, word vervolg, maar vir munisipale amptenare wat die wet oortree soos hier duidelik gebeur, is daar klaarblyklik ‘n ander stel reëls.

Omgewings- en waterwetgewing maak ruim voorsiening vir die vervolging van persone wat toelaat dat waterbesoedeling plaasvind.

Die minister sê ook in sy antwoord dat daar “samewerking” tussen die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) en die Munisipale Infrastruktuur-ondersteuningsagentskap (Misa) is om die munisipaliteite te help met die ontwikkeling en uitvoering van hul aksieplanne.

Dit is bykans tien maande ná die Groendruppel-verslag. Wat die “samewerking” behels, is nie duidelik nie. Ook nie of dit al begin het of wanneer dit afgehandel moet wees nie.

Een ding is wel duidelik uit die gewaande poging om Salga en Misa betrokke te kry:

Dit is dat die meeste munisipaliteite met al hul betaalde amptenare bloot nie die kundigheid het om self ’n aksieplan oor hul probleem op te stel nie.

Suid-Afrika kan net gered word deur so gou moontlik van die ANC ontslae te raak.

Navrae: 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.