Die VF Plus sal in die komende jaar ‘n volle ondersoek doen rondom die kriteria wat deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling toegepas word rakende staatsubsidies aan kinderhuise.
Die VF Plus moes ‘n week gelede intree nadat die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in Pretoria nie betyds hul subsidies ontvang het nie.
Na ‘n skrywe aan die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, is die agterstallige geld betaal.
Ander kinderhuise in Gauteng sukkel ook om ‘n volle subsidie vir die aantal kinders in hul sorg te ontvang.
Dit is onregverdig van die departement van maatskaplike ontwikkeling om geld laat aan kinderhuise te betaal. Dit veroorsaak reuse finansiële probleme en kinderhuise moet dan staatmaak op die finansiële hulp van private persone en organisasies.
Die party sal die situasie noukeurig dophou en weer druk op die departement toepas indien subsidiegeld van die vierde kwartaal (Januarie, Februarie en Maart 2023) nie betyds oorbetaal word nie.