Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

SOE-verslag: “Geen onreëlmatighede in hantering van Orania-grondeis”

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in ‘n ondersoek na die Orania-grondeis wat in 2006 afgehandel is, bevind dat daar geen onreëlmatighede in die hantering daarvan was wat verdere aksie regverdig nie.

Dit het Woensdag uit ‘n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelike ontwikkeling aan die lig gekom.

Die portefeuljekomitee het vroeër die SOE versoek om verslag te lewer oor alle ondersoeke rakende die restitusie van grond. Die verslag dek ondersoeke na aanleiding van proklamasies gedurende die tydperk 2011 tot 2017.

Dit het onder meer daartoe gelei dat meer as R654 miljoen se transaksies of administratiewe besluite ongeldig verklaar is.

Een van die eise, wat klaarblyklik na die SOE vir verdere ondersoek verwys is, was die 2005-eis van voormalige inwoners van Orania wat in 1991 moes trek toe die destydse departement van waterwese die grond verkoop het. Hoewel die sowat 90 eisers nooit grond in Orania besit het nie, het hulle aangevoer dat hulle verskuiwing wel aan die vereistes vir restitusie voldoen.

Die gemeenskap van Orania was nie ‘n party tot die eis nie, aangesien dit eers agterna in besit van die grond gekom het.

Die eis is met finansiële vergoeding geskik en is dus afgehandel. Dit is later klaarblyklik na die SOE verwys om vas te stel of alles reëlmatig gedoen is.

Die VF Plus maak daarop staat dat die voorstanders van grondhervorming hul aandag voortaan sal toespits op die departement en sy gebreke. Orania, op sigself ‘n voorbeeld van gemeenskaplike grondbesit en gemeenskapsgedrewe ekonomiese ontwikkeling, kan eerder genader word om ander gemeenskappe te help om soortgelyke doelwitte te bereik.

Die VF Plus bly verbind tot die bepalings van artikel 235 van die Grondwet en die vergestalting daarvan in gemeenskappe soos Orania.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.