Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Honderde miljoene rand se onreëlmatighede met grondhervormingsprojekte: SOE-verslag toon departement ondermyn enige kans op sinvolle grondhervorming

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het Woensdag ‘n verdoemende verslag van korrupsie en onbevoegdheid, wat lei tot onreëlmatige restitusie van grond, aan die portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgehou.

Dit dui daarop dat dit nie die proses van “gewillige koper gewillige verkoper” is wat restitusie ondermyn nie, maar die departement self.

Die ondersoeke is kragtens vyf proklamasies uitgevoer, van 2011 tot 2017. Opgesom, is meer as R654 miljoen se kontrakte en/of administratiewe besluite ter syde gestel of ongeldig verklaar en 611 verwysings na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het gevolg.

Kontant en/of bates van meer as R306 miljoen is herwin, terwyl potensiaal vir R250 miljoen se herwinning bestaan.

Verder identifiseer die SOE ses kritieke faktore wat tot die stelselwye korrupsie lei. Dit is: Oneerlike amptenare, swak rekordhouding, ondoeltreffende stelsels, gebrek aan beheer, oorsig en bestuur, gebrek aan verifikasieprosesse en gewetenlose regslui.

Die enigste hiervan wat buite die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling is, is gewetenlose regslui.

Tydens die komiteevergadering het die VF Plus daarop gewys dat dit duidelik is dat hierdie gegewens enige hoop op suksesvolle restitusie ondermyn.

Ander sondebokke wat soms met groot emosie uitgewys word, soos gevestigde rolspelers in die landbousektor, is dus nie die probleem nie.

Die grondkwessie is ‘n politieke saak wat sterk emosies gaande maak. Tans is die MK Party met ‘n poging besig om die afsnypunt vir restitusie van grond van 1913 na 1652 terug te skuif.

Ongeag ‘n mens se siening van die geskiedenis, is dit duidelik dat die departement nie met enige restitusie vertrou kan word nie.

Die grondvraag in Suid-Afrika kan slegs geskik word as die toepaslike departement oor die nodige vermoë beskik; as voedselsekerheid nie in gedrang kom nie; en as Afrikaners en ander inheemse minderhede wat nog nie erkenning geniet nie, se status in Suid-Afrika erken en deel van die skikking oor grond word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.