Die VF Plus spreek sy skok uit met die afdanking van al agt SABC-joernaliste wat dit durf waag het om hulle uit te spreek teen die SABC-base se sensuuropdragte.
Slegs ingrype op die hoogste vlak sal die magsdronk SABC-leiers tot hul sinne bring. Omdat dit onwaarskynlik is dat president Jacob Zuma onmiddellik sal ingryp, vra die VF Plus dat ‘n noodvergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie onmiddellik byeengeroep word.
Deur hierdie senior joernaliste af te dank voor enige verhoor of regstappe voltooi is, bevestig die diktatoriale bestuurstyl wat tans by die SABC heers.
Die les wat die SABC se leiers gaan leer, is dat as jy een keer jou nuus-geloofwaardigheid in die publiek se oë verloor het, jy dit baie moeilik ooit weer kan terugkry. Dit is besig om tans by die SABC te gebeur.
Die VF Plus het vandag ‘n brief aan die hoofsweep van die parlement, Jackson Mthembu, gerig waarin dringend ‘n noodvergadering van die parlementêre portefeuljekomitee verantwoordelik vir die SABC en die Uitsaaiwet gevra word ten einde te probeer red wat te redde is by die SABC.
Navrae: 083 419 5403 / 082 674 6670