Hoe voel dit as vrou wanneer mense jou klere afstroop, jou met sadistiese genot slaan en skop tot jy totaal weerloos en bebloed voor hulle staan…
Jou dan onder ’n stort indruk en net die warm water oopdraai en as dit nie warm genoeg na hul sin is nie, jou uitsleep en ’n vuurwarm strykyster teen jou naakte liggaam druk tot die velle afskroei…
Wetende dat dieselfde wesens wat jou martel en vermink dalk reeds jou geliefde lewensmaat vermoor het.
Met die allesoorheersende vrees dat die ergste dalk nog wag..?
Sonder enige rede hoegenaamd.
Hulle het alles wat hulle wil hê. Gewere. Geld. Sleutels. Selfone. TV-stelle… Alles. Hierdie marteling is bloot vir hulle vermaak. Vir die pret.
Volgens die regering sy eie statistiek al digby 2 000 dood. Ander reken dis veel meer. Dalk nader aan 3 000: Die aantal mense wat sedert 1994 in plaasaanvalle vermoor is.
Voeg daarby ook 2 000 of veel meer wat nou soos Elsa Richter van Thabazimbi aangerand en gemartel is. Haar man Marthiens (68) buite die huis doodgeslaan.
Voeg daarby die duisende werknemers wie se lewe direk geraak is, wat dalk ‘n werk en inkomste verloor het.
Die naasbestaandes. Gebroke en stukkend. Die letsels van só ’n brutale aanval op geliefdes verdwyn nooit. Sommige kan vergewe. Ander nie.
Die haat, wroeging en die rou emosie dra jy saam vir die res van jou lewe.
Dit is die groter prentjie van ’n plaasaanval. Die werklike prentjie.
Die bykans daaglikse, weeklikse beriggies in die media het mense al afgestomp vir die ware grusaamheid van ’n plaasaanval.
Die sinne en emosie en simpatie kan nie byhou met die syfers nie.
Eers was dit ’n haas onbekende verskynsel. Toe hier en daar een. Toe word dit ’n paar. Tien, honderd… Duisend. Tweeduisend. So algemeen soos die daaglikse weerberig.
So verloor die grusame werklikheid van dood en verminking eindelik sy angel.
Hierdie is van die gedagtes wat deur my kop maal elke keer as ek as provinsiale leier van die VF Plus die toneel van ’n plaasaanval besoek. Of met beseerdes of naasbestaandes praat ná ’n aanval.
Dit is ’n verskrikking waaraan ons nooit gewoond mag raak nie, want dan is ons gestroop van menslikheid, emosie en meegevoel.
Wanneer ’n hof boonop nie fout vind met ’n politikus soos Julius Malema wat sing boere moet doodgemaak word nie, is daar nie woorde nie.
Jy wil graag ’n stukkie van die onmenslikheid en pyn en lyding vir die regter wys. Die stil figure onder ’n bloedbevlekte laken. Maar jy kan nie.
Ek sê hierdie met die sekere wete dat ek in die volgende weke weer by ’n plaashek gaan inry waar ’n boer vermoor is.
Nóg een by die syfer 2 000.
Ek gaan weer langs ’n bed van ’n stukkende slagoffer staan soos vanoggend by Elsa Richter. Voeg nog een by die 2 000.
Vir my sal hierdie mense nooit net ’n getal kan wees nie. Ook nie vir my party nie.
Dit is inderdaad ‘n verskrikking waaraan ons nooit gewoond mag raak nie.