Die Hantam Rooibosteefabriek wat die Noord-Kaapse regering in 2009 in Nieuwoudtville in die Hantam-plaaslike munisipaliteit (Brandvlei, Calvinia, Loeriesfontein, Middelpos, Nieuwoudtville) gevestig het, is nou reeds langer as twee jaar in sakeredding.
In 'n wending wat ‘n groot verlies vir die gemeenskap is, het die sakeredder 'n likwidasie-aansoek gebring, wat vandag, 9 September, in die hooggeregshof in Kimberley dien.
Dié fabriek is een van die mees gesofistikeerde fabrieke van sy soort. Dit het van die begin af groot potensiaal getoon vir uitvoer.
Die VF Plus plaas die sluiting van die fabriek voor die deur van die plaaslike regering wat nie bereid was om ‘n vennootskap met private beleggers aan te gaan om die nodige bestuursvaardighede en kundigheid na die tafel te bring nie.
Hierdie situasie plaas verdere druk op die plaaslike rooibosteebedryf en die gemeenskappe wat daarvan afhanklik is.
Die werkloosheid in Nieuwoudtville en omliggende gebiede gaan hierdeur verder vererger word.
‘n Goue geleentheid is verlore om die Noord-Kaap te vestig as leier in die uitvoer van rooibostee.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die provinsiale regering om private beleggers te nader om tot die redding van die fabriek te kom en ‘n verdere insinking in die ekonomie van die Hantam te voorkom.