Slaggate wat nie reggemaak word nie is ‘n groot rede vir ongelukke en gevolglike sterftes en beserings in Ekurhuleni.
Die ANC/EFF-regeerde metro moet besef sy versuim om die paaie in stand te hou, dra direk by tot die ongelukke en die verlies aan menselewens.
Daarbenewens veroorsaak slaggate groot skade aan motorvoertuie, veral tydens die reënseisoen wanneer dit grootliks onsigbaar word weens die opdam van water op paaie.
Die VF Plus vind dit skokkend dat die metro nie die kwessie prioritiseer nie.
Een van die hoofredes vir slaggate is reënwater wat weens gebrekkige onderhoud vanuit verstopte stormwaterpype die paaie oorspoel.
Dit kan selfs sinkgate veroorsaak weens die geweldige sterk watervloei en druk in die ondergrondse pype wat nie behoorlik onderhou word nie.
Die slegte paaie beïnvloed weer sakeondernemings omdat sekere roetes onbegaanbaar raak. ‘n Voorbeeld van ‘n bykans onbruikbare pad is Middle-straat in Bartlett, Boksburg.
Baie voertuie is al beskadig in dié straat voor die plaaslike sokkerklub.
Die VF Plus het vanjaar reeds groot druk op die paaie- en stormwaterdepartement geplaas om dringende aandag aan die herstel van slaggate te gee.
Die departement se terugvoering is dat hulle besig is, maar dat die agterstand bykans te groot is om in te haal.
Daar is volgens die metro self sowat 1760 slaggate wat ‘n goeie aanduiding is van die haglike toestand van die paaie.
Die VF Plus vind dié stand van sake onaanvaarbaar, veral omdat die departement bykans R110 miljoen vir herstelwerk en instandhouding begroot het, maar skaars R42 000 daarvan gebruik het.
Hierdie onderbesteding staan in skrille kontras met die departement se oorbesteding van sy oortydbegroting.
Die VF Plus het druk op die departement geplaas om antwoorde te gee oor die onderbesteding op paaie. Die departement het verduidelik dat die tender aan diensverskaffers eers in die eerste maand van die kwartaal afgehandel is.
Hierdie is nog ‘n bewys van die ANC en EFF se totale onvermoë om te regeer.
Wat die oortyd aanbetref, is dit glo vir na-uurse noodoproepe om paaie skoon te maak nadat motorongelukke plaasgevind het.
Die VF Plus vind dit ironies aangesien dit juis in baie gevalle die swak paaie is wat die ongelukke veroorsaak.
Inwoners gryp nou self in om slaggate te herstel. Dit skep egter soms groter probleme omdat die regte materiaal om die slaggat toe maak nie gebruik word nie, maar eerder boumateriaal soos bakstene en sand wat verdere skade veroorsaak.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas vir die dringende en volhoubare herstel van slaggate veral deur middel van die vorming van openbare-privaat vennootskappe, asook die behoorlike onderhoud van die stormwater-pypstelsel in Ekurhuleni.