fbpx
Vryheidsfront Plus

Misdaadstatistiek: Suid-Afrika raak vinnig wêreld se misdaad-hoofstad met toenemende vlakke van geweld

Terwyl Suid-Afrika op verskeie gebiede die voortou begin neem as een van die misdadigste lande ter wêreld en die land se misdaadsyfer bly toeneem, het misdaad bykans nie ‘n bliep op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede-radar geregistreer nie.

Selfs ‘n gerekende internasionale navorsingsgroep, die Global Organized Crime Index (Goci), stel die ANC-regering al gelyk aan ‘n georganiseerde misdaadkartel.

Wat vandag se misdaadstatistiek aanbetref, is veral die toenemende vlakke van geweldsmisdaad, in besonder teen vroue en kinders, kommerwekkend.

Dit is nieteenstaande die regering en pres. Cyril Ramaphosa se talryke beloftes en planne jaar na jaar om daadwerklik iets te doen aan geslagsgegronde geweld.

Moord op vroue in die drie maande-tydperk van Oktober tot Desember verlede jaar, het met 3,1% toegeneem teenoor die ooreenstemmende tyd ‘n jaar gelede. Altesame 1 135 vroue is vermoor.

Poging tot moord op vroue (1 830) gevalle het met 11,9% toegeneem en aanranding met die doel om ernstig te beseer, met 7% (18 474 gevalle). Ernstige aanranding op kinders het ook met 11,9% toegeneem (2 281 gevalle).

Wat die algemene geweldsmisdaadsyfers aanbetref, het moord toegeneem met 2,1% (7 710), poging tot moord met 13% (7 927), ernstige aanranding met 5,8% ( 2 931) en gewapende roof met 6,6% (40 331 gevalle).

Wat die gevreesde trio-misdaadgroep aanbetref, het motorkapings gestyg met 6,5% (5 973) en roof by woonhuise met 1,7% (6 360). Rooftogte elders het effe gedaal met 3,2%.

Wat die statistiek nie wys nie, is wáárom daar so ‘n skerp toename is in geweldsmisdaad.

Die moordsyfer in Suid-Afrika was ses jaar gelede 34 per 100 000 van die bevolking. In 2022 het dit gestyg tot 36,5 (Statista, ʼn internasionale data- en sake-intelligensieplatform).

Dit staan nou op 45, die tweede hoogste ter wêreld. Net El Salvador op 52 het ‘n hoër moordsyfer (Statista). Derde is Jamaika (43,85%,), dan Honduras (38,93%) en vyfde Venezuela (36,69%).

Luidens die Goci se jongste verslag, is Suid-Afrika tans sewende op die lys van lande met die hoogste georganiseerde misdaadsyfer en styg dit plaaslik die skerpste.

Terwyl gevestigde en omvangryke misdaadkartels in lande soos Colombia, Meksiko en Nigerië die duidelike oorsaak is van dié lande se georganiseerde misdaadprobleem, is dit skokkend dat Goci die Suid-Afrikaanse regering as hoofrolspeler uitsonder.

Die verslag lui onder meer: “Suid-Afrika se misdadige markte word versterk deur die invloed van misdadige akteurs, veral staatsgebonde akteurs – verantwoordelik vir jare se staatskaping – asook misdaadnetwerke wat hoogs onderling verbind is” – duidelik verwysend na die ANC-regering se stelsel van patronaatskap.

In Suid-Afrika kan duidelik gesien word hoe werkloosheid en misdaad hand-aan-hand loop. Misdaadvlakke in die land het oor die jare toegeneem soos wat die ekonomie agteruitgegaan het.

Die ANC het Suid-Afrika geregeer tot op die vlak van een van die slegste en misdadigste lande met een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld.

Suid-Afrikaners mag nie toelaat dat die ANC ná die komende verkiesing nog aan bewind is om die land verder te plunder en oor die afgrond te dryf nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.