Die VF Plus het ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien omdat die munisipale bestuurder van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit, mnr. Zithulele Nikane, skrywes rondom waterbesoedeling in Hartswater geïgnoreer het.
Die Phokwane-munisipaliteit bedien Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad.
Inwoners van Hartswater sukkel sedert November 2023 met onvoldoende watervoorsiening.
Die belangrikste rede waarom gedeeltes van Hartswater vir dae sonder water gelaat word, is kwaadwillige gepeuter met stopkrane. Hierdie krane is nie behoorlik beveilig nie en toegang word nie gekontroleer nie.
Tydens ʼn oorsigbesoek van die VF Plus aan Hartswater se watersuiweringsaanleg is gevind dat dit nie aan wetlike standaarde voldoen nie.
Die sand in die filtreerders was hard en kan nie meer water behoorlik filtreer nie. Pompe is onklaar en die sedimentdam word nie met gereelde tussenposes skoongemaak nie. Chloor word ook nie korrek toegedien nie.
Daar is ook gevind dat die laste in die hoofpypleiding lek. Beesmis is in die gate gegooi waar die pype gelas is. Dit veroorsaak ‘n besmetting en hou ‘n wesenlike gevaar in vir inwoners se gesondheid. Gevalle van diarree is al aangemeld.
Die VF Plus het in ‘n skrywe die munisipaliteit en munisipale bestuurder op sy wetlike verpligting gewys om op te tree en dat indien daar versuim word om op te tree, daar strafregtelik teen hom opgetree kan word. Geen reaksie is ontvang nie.
Phokwane skend inwoners se grondwetlike reg tot toegang tot skoon water en daarom het die VF Plus ‘n klag by die MRK ingedien.
Die party doen ‘n ernstige beroep op die MRK om hierdie saak as uiters dringend te hanteer en strafregtelik teen die munisipale bestuurder op te tree indien hy en die munisipaliteit nie optree nie.