Die aanvalle van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, op Orania is lagwekkend. Hy kan eerder dieper kyk na die lesse wat dié gemeenskap hom kan leer in goeie openbare bestuur en dienslewering teenoor sy eie leë beloftes.
Sy opportunistiese en populistiese aanvalle op ‘n selfbestuurde gemeenskap is ‘n poging om die fokus te verwyder van sy eie onvervulde beloftes waaroor hy verslag moet doen by aanstaande Maandag se jaarlikse provinsiale rede.
Lesufi het reeds aangedui dat hy nog ‘n reeks beloftes gaan maak. Dit word gedoen in ‘n desperate poging om die ANC se swak prestasie oor die jare te verbloem om steun te werf vir die komende verkiesing.
Peilings dui op ‘n tendens waar die ANC in Gauteng minder as 40% steun gaan behaal en Lesufi wil dit ten alle koste omdraai.
Sy pogings om Gauteng se gebrek aan elektrisiteit aan te spreek, het nog geen vrugte afgewerp nie. Sonplase is nog nie operasioneel nie en Soweto se agterstallige kragrekeninge is nog nie afgeskryf nie.
Dié Soweto-skuldafskrywing veroorsaak groot ontevredenheid onder ander gemeenskappe en is duidelik ʼn ANC-verkiesingsfoefie aangesien die ANC nie ‘n meerderheid in Gauteng kan behaal sonder steun uit Soweto nie.
Die e-tol-kwessie raak al holruggery, maar dit is steeds belangrik om daarop te let dat daar dadels gekom van Lesufi se plan om die voorstel van nasionale tesourie te implementeer waarvolgens Gauteng 30% van die e-tolskuld moet oorneem en delg ten einde die stelsel af te skaf.
Lesufi se aanstelling van duisende vredesbeamptes wat misdaad moet bekamp is ook uiters gebrekkig weens swak opleiding en die vermorsing van duur patrolliemotors deur onervare amptenare.
Daarby ook die onwettige aard van die aanstellings omdat dit nie goedgekeur was deur die ministers van polisie en justisie nie. Die minister van justisie het die aanstellings nie in die Staatskoerant geproklameer nie wat alle aanstellings en optrede van die vredesbeamptes onwettig maak.
Daar is natuurlik nog heelwat ander beloftes wat onvervuld bly en wat gemaak is as deel van ‘n desperate verkiesingsfoefie om nie die provinsie aan die handves-partye af te staan nie.
Dit lyk of die meeste van Lesufi se planne boemerang en meer skade vir die ANC veroorsaak. Teen hierdie agtergrond kan hy eerder by Orania iets leer oor goeie regering en gemeenskapsbestuur.
Die VF Plus verwag nog talle nuwe beloftes wat Maandagaand gemaak sal word en wat onvervuld sal bly en sien uit daarna om as een van die handves-partye ‘n nuwe en bevoegde regering in Gauteng te vorm.