Dit blyk volgens die Groen Skerpioene dat die openbare beskermer (OB) besig is om ‘n saak teen die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) voor te berei weens die besoedeling van die Vaalrivier.
Die VF Plus se jarelange volgehoue druk om Emfuleni verantwoordelik te hou vir die besoedeling, is nou besig om vrugte af te werp.
Die party het in 2020 ‘n saak by die Groen Skerpioene aanhangig gemaak weens die munisipaliteit se voortgesette oortreding van die Nasionale Waterwet.
Die rioolstelsel het sedert 2018 in duie gestort weens minimale instandhouding. Riool het begin om deur begraafplase, huise, erwe en paaie tot in die Vaalrivier te stroom.
Die menseregtekommissie (MRK) het in 2021 ná ‘n ondersoek die besoedeling van die Vaalrivier as ‘n menseregteskending verklaar.
Die MRK het Emfuleni, die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die nasionale departement van water en sanitasie verantwoordelik gehou vir die totale ineenstorting van Emfuleni se watersuiweringstelsel en die besoedeling van die Vaalrivier.
Die VF Plus het breedvoerig verslag aan die MRK gedoen oor die munisipaliteit se onbevoegdheid om verouderde infrastruktuur te vervang en gereelde onderhoudswerk te verrig. Dié insette is in die MRK-verslag saamgevat.
Die party hou die voormalige munisipale bestuurder, Lucky Leseane, die uitvoerende direkteur van Metsi a Lekoa, Motoda Besani, en ander amptenare verantwoordelik vir die wanbestuur van die munisipaliteit.
Die nuwe munisipale bestuurder, April Ntuli, se naam sal by die klagstaat gevoeg word.
Die blatante besoedeling van die Vaalrivier hou ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier in.
Die VF Plus is hoopvol dat die besoedeling van die Vaalrivier nou op ‘n spits gedryf gaan word.