Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit se munisipale bestuurder, mnr. Donald Mhangwana, met vrae rondom die beskikbaarheid van water vir brandbestryding.
Dit volg nadat ‘n woning in Aqualaan in die vroeë oggendure in puin gelê is weens ‘n tekort aan water.
Brandweerdienste was op die toneel en kon daarin slaag om die brand tot ‘n mate in bedwang te bring, maar het gesukkel om water uit die brandkrane te kry.
Die water in Tzaneen word elke aand omstreeks 21:00 afgeskakel weens ‘n tekort aan water en om die reservoir-vlakke vir die volgende dag op te vul.
Die brandkrane was dus droog en die brandbestryders kon slegs van een van hul eie watertenks gebruik.
Die brandskade aan die huis kon waarskynlik veel minder gewees het indien daar water in die brandkrane was.
In sy skrywe aan mnr. Mhangwana, doen die party navraag rondom voorkomende maatreëls wat in plek behoort te wees vir soortgelyke voorvalle.
Die party wil ook weet of die plaaslike brandweer genoeg watertenkwaens en stoorplek vir water beskikbaar het sou die munisipaliteit nie kan sorg dat daar water vir brandkrane is nie.
Dit is ook nie die eerste keer dat die VF Plus die munisipaliteit waarsku oor die beskikbaarheid van water in brandkrane nie.
Ná die verwoestende brande in September 2023 wat dele van Phalaborwa in puin gelê het, het die VF Plus ook aan Tzaneen se direkteur vir ingenieursdienste, me. Olga Tshisevhe, geskryf en antwoorde geëis rondom brandkrane wat by hoë brandrisiko’s in Tzaneen beskadig of verseël is.
Munisipaliteite het ‘n wetlike verpligting om brandbestrydingsdienste aan inwoners te lewer. Die ANC-beheerde rade is nie in staat daartoe nie.
Die party sal druk uitoefen op die Tzaneen-munisipaliteit om te verseker dat die munisipaliteit aan rampbestuurswetgewing voldoen om inwoners te beskerm teen brande.