fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus lewer kritieke insette ten einde Ekurhuleni se dienslewering te verbeter

Die VF Plus het kritieke insette gelewer tot die organisatoriese hersiening van die Ekurhuleni-metro ten einde dienslewering te verbeter.

Die party het druk op die metroraad geplaas om nie die hersieningsplan ten tyde van die Januarie 2024 raadsvergadering te laat dien nie sodat belangrike insette tot die plan gelewer kon word.

Die VF Plus het sy bydraes vir die hersieningsplan op 9 Februarie formeel aan die metro oorhandig.

Die party se bydraes bestaan uit verskeie voorstelle, maar ook ernstige vrae oor die implikasies van die organisatoriese hersieningsplan soos voorgestel deur die ANC/EFF metro-regering.

Een van die plan se voorstelle is om verskeie departemente saam te voeg, naamlik ekonomiese ontwikkeling, stadsbeplanning, vaste eiendom, kommunikasie, bemarking, toerisme, strategie en diensleweringkoördinasie.

Dit behels die samevoeging van ‘n wyd uiteenlopende groep funksies en die VF Plus is bekommerd hoe dit onder een sambreel bestuur gaan word. Verder is daar ook kommer hoe die samevoeging die metroraad se onderskeie oorsigkomitees gaan raak, veral wat hul samestelling en mandaat aanbetref.

Die plan behels verder dat departemente herbenaam word, nuwe afdelings geskep word en die herindeling van bestaande personeel.

Die VF Plus bevraagteken egter of die ANC/EFF-regering in staat is om hierdie veranderinge soomloos te implementeer. Daar moet ook gekyk word na die effek wat die vermindering van personeel in sekere afdelings op dienslewering gaan hê.

Daarby is dit kommerwekkend dat die personeel slegs verminder word van 21 526 tot 21 522 werknemers. Net vier poste word verminder en dit maak nie sin hoe daar enersyds besparings hierdeur verkry kan word en andersyds hoe dienslewering sal verbeter met die groot en lomp administrasie wat alreeds swak dienste lewer nie.

Dit is duidelik dat die ANC/EFF-regering nie die geleentheid gebruik om Ekurhuleni meer effektief te maak en kostes te spaar nie.

Daarby is dit uiters kommerwekkend dat die interne ouditeenheid geskuif gaan word na die stadsbestuurder se kantoor.

Dit skep ‘n wesenlike konflik van belange wat oorsig oor die metro se bestuur wesenlik sal verswak, veral in ag genome die feit dat die ouditeenheid onafhanklik behoort te funksioneer.

Daar is talle ander kwessies wat die VF Plus ook kwel. Die party het daarom ‘n reeks voorstelle gedoen soos die uitvoer van ‘n impakstudie oor die plan, die implementering van robuuste veranderings-bestuursprosesse, ‘n gefaseerde implementeringsproses, die skepping van duidelikheid oor rolle en verantwoordelikhede, die meet en evaluering van prosesse en die bestuur van implementeringsweerstand.

Laastens versoek die VF Plus dat daar oorweeg word om navorsing te doen oor die sinvolheid en haalbaarheid van die skepping van ‘n departement van basiese dienslewering.

Dit kan as ‘n omvattende dienswinkel dien vir water en sanitasie, energie en vullisverwydering wat elkeen binne die departement onder aparte afdelings sal ressorteer.

Die departement kan effektiewe en eenvormige basiese dienslewering op hierdie wyse lewer.

Die VF Plus sal aanhou om druk op die ANC/EFF-regering plaas om dienslewering aan inwoners te verbeter.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.