‘n Noodlottige ongeluk Vrydag op die pad tussen Orania en Hopetown op die besige roete tussen mangaanmyne en uitvoerhawens, was nóg ‘n wekroep om deeglike herstelwerk aan die pad te prioritiseer.
Dié pad word reeds jare deur derduisende ertstrokke beskadig wat dit baie gevaarlik vir gewone motoriste maak.
Die roete is reeds sedert 2022 onder Sanral se beheer, maar word telkens net gelap terwyl omvattende onderhoudswerk nodig is; van die pad se fondasie tot die oppervlak.
Gereelde padgebruikers is gewoond om slegs aan die kant van die pad te hou waar leë ertstrokke gewoonlik ry. Voertuie swaai slegs uit na die regte kant van die pad wanneer daar verkeer van vooraf aankom.
Volgens mediaberigte was ‘n skoolvervoer-minibus in ‘n trompop-botsing betrokke en een skoolkind is oorlede. Dit lui ook dat die bestuurder van die minibus weens oorlading in hegtenis geneem is.
Die VF Plus steun verhoogde wetstoepassing rakende oorlading, maar die padtoestand verhoog die risiko op hierdie roete aansienlik.
Hierdie ongeluk beklemtoon verskeie twyfelagtige beleidsbesluite: Verwaarlosing van die spoorvervoerstelsel dwing vragvervoer na paaie; paaie se instandhouding word verwaarloos en sentralisering van onderwys beteken plaasskole sluit en leerders word daagliks op gevaarlike paaie na skole vervoer.
Hierdie pad was gedurende 2025 vir ‘n nuwe oppervlak geoormerk. Dit is egter uitgestel sodat daar in ‘n volgende finansiële jaar voldoende fondse begroot kan word om die pad van die fondasie af te herbou.
Intussen bly die pad gevaarlik. In 2025 is ‘n video waar twee trokke reg van voor met mekaar bots, wyd op sosiale media versprei.
Die VF Plus sal volgehoue druk toepas, sodat die hele omgewing die voordeel van ‘n veiliger roete kan geniet.


