Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Departement van menslike nedersettings faal in Tshwane

Dit blyk duidelik uit die kwartaalverslae vir die tydperk van Junie tot November 2025 van die Tshwane-metro se departement van menslike nedersettings, dat dié departement nie sy grondwetlike mandaat kon nakom nie.

Bykans ʼn volle kwartaal het in die proses verlore gegaan om vir inwoners van die metro, veral vir lae-inkomste groepe en kwesbares, toegang tot ordentlike, veilige en volhoubare behuising te skep.

Die verslag toon dat geen nuwe grond voorberei is nie, geen water- of rioolverbindings gedoen is nie, geen paaie aangelê is nie, geen grond vir projekte aangekoop is nie en geen enkele gesubsidieerde huis gebou is nie.

Die metro moes gevolglik sy jaarlikse teiken vir nuwe huise drasties verlaag van 1 200 na slegs 407. Die rede hiervoor is vertragings by die Gautengse provinsie met tenders en verkrygingsprosesse, wat nie betyds afgehandel word nie.

Die verslag wys verder op ernstige probleme met finansiële beheer en nakoming van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA). Rekords word nie behoorlik gehou nie, interne kontroles ontbreek en ou ouditbevindings bly onopgelos.

Dit dui op ’n patroon van aanhoudende wanbestuur.

Hoewel sommige amptenare hard werk om titelaktes te verwerk, help dit min as groot bouprojekte heeltemal stilstaan. Gemeenskappe wag op grond met basiese dienste, paaie en ordentlike huise wat nie net op papier bestaan nie.

Die VF Plus vra dringende ingryping van die stadsbestuur en stel die volgende voor:

• ‘n Omvattende MFMA-nakomingsherstelplan
• Formele eskalering van provinsiale verkrygingsvertragings
• Versterkte kontrak- en projekbestuurstelsels
• Maandelikse vorderingsverslagdoening oor grootmaatinfrastruktuur van gedienste terreine
• ‘n Duidelike ouditaksieplan om ‘n herhaling van die bevindinge te voorkom.

Die uitvoerende gesag moet dringend optree om nakoming te herstel, kapasiteit te herbou en om seker te maak dat die komende kwartale nie die mislukkings van die tweede kwartaal herhaal nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.