Die VF Plus in Kemptonpark waarsku die Ekurhuleni-metro om nie inligting van inwoners te weerhou oor kragonderbrekings wat hulle raak nie.
Inwoners het die reg om te weet wat die onderbrekings veroorsaak en hoe lank herstelwerk sal duur.
Intussen sit gemeenskappe soos Spartan, Cresslawn, Rhodesfield Uitbreiding 1, Kemptonpark-middedorp, Kemptonpark Uitbreiding 1 tot 4 en Esterpark reeds vier dae sonder elektrisiteit.
Die middedorp is steeds in donker gehul, terwyl kabeldiefstal die situasie verder vererger.
In ’n tyd van ekonomiese druk kan gesinne eenvoudig nie bekostig dat kos in hul vrieskaste bederf nie. Studente en leerders wat eksamen aflê, word gedwing om van duur alternatiewe energie gebruik te maak, en indien nie, sit huishoudings in totale duisternis.
Dit is ’n direkte aanval op die waardigheid, veiligheid en welstand van inwoners wat elke maand hul diensterekeninge betaal, maar in ruil daarvoor gebrekkige dienste ontvang.
Die VF Plus sal nie toelaat dat Kemptonpark se inwoners soos tweedeklas burgers behandel word terwyl ’n onbevoegde administrasie versuim om basiese dienslewering te verseker nie.
Die party sal aanhou druk plaas op die energiedepartement totdat elektrisiteit herstel is en inwoners die eerlike, tydige en deursigtige kommunikasie kry waarop hulle geregtig is.
Die tyd het aangebreek dat inwoners hul vertroue in die huidige administrasie heroorweeg.
As Kemptonpark ’n metro wil hê wat funksioneer, infrastruktuur beskerm en belastingbetalers respekteer, is daar geen ander keuse as om vir die VF Plus te stem wat bewys dat dienslewering eerste kom en die gemeenskap se belange voorop stel.


