Die VF Plus en ander opposisiepartye in die Johannesburg-metro het Donderdag saamgestaan en verhinder dat die ANC ’n onrealistiese aansuiweringsbegroting deurdruk.
Die doel van so ’n begroting is om finansiële bestuur in lyn te bring met die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) en ongemagtigde uitgawes te keer.
Die ANC het dit egter probeer gebruik om ernstige finansiële probleme weg te steek.
Die voorgestelde aanpassings het salarisse en slegte skuld met R1,05 miljard elk verhoog, terwyl kontrakteursdienste met R1,17 miljard verminder is.
Saam met kleiner aanpassings het dit die totale uitgawes van R80,6 miljard tot R81,2 miljard laat styg.
Tog is groot oorbestedings vanaf Julie tot Desember 2025 soos R1,2 miljard op salarisse, R640 miljoen op elektrisiteit, R313 miljoen op water en R252 miljoen op rente eenvoudig geïgnoreer.
Indien dit bygereken was, sou die uitgawes met ’n verdere R3,61 miljard gestyg het.
Die metro se finansiële posisie is benard, maar daar is geen politieke wil om dit te erken of daadwerklik reg te stel nie. Daarom het die VF Plus geen ander keuse gehad as om die begroting te verwerp nie.
Die VF Plus is gereed om ná die plaaslike regeringsverkiesing saam te werk om die ANC se brouwerk reg te maak en Johannesburg op die herstelpad te plaas tot voordeel van al sy inwoners.


