Die Noord-Kaapse LUR vir plaaslike regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, mnr. Bentley Vass, se mees onlangse poging om sake rondom ‘n magstryd by die Sol Plaatje-plaaslike munispaliteit te stabiliseer, het Donderdag misluk.
Daarom herhaal die VF Plus sy aandrang op ‘n amptelike ondersoek na die speaker, me. Dipuo Peters, se aandeel om hierdie krisis te laat opbou.
Die hele debakel wentel om die stryd tussen Peters en die burgemeester, me. Martha Bartlett, aan die een kant en die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala aan die ander kant.
Die VF Plus het die standpunt dat alle optrede rakende Matlala streng volgens die wet behandel moet word, herhaaldelik gestel.
Gevolglik beloop die munisipaliteit se regskoste al miljoene rand.
Vass se mees onlangse poging om orde te herstel was om ‘n raadsvergadering byeen te roep om ‘n middeweg tussen die groepe te bereik.
Die vergadering het egter in wanorde ontaard en is verdaag sonder enige vordering.
Die LUR kon hierdie fiasko vroeër al beëindig het. Die VF Plus het reeds verlede jaar skriftelik versoek dat hy die speaker se rol hierin ondersoek, aangesien dit bes moontlik strydig is met die gedragskode vir raadslede. Dié skrywe is egter tot dusver onbeantwoord gelaat.
Wat gister gebeur het, is maar net nog ‘n episode in die ANC se vernietigingstog in Kimberley wat oor dekades strek. Die oorsaak daarvan is interne verdeeldheid, maar die slagoffers is die hele gemeenskap.
Met die komende verkiesing kan inwoners van Kimberley vir die VF Plus stem, vir behoorlike regering.


