Politieke faksiegevegte en swak beplanning het gelei tot beurtwater in Marquard en Clocolan in die Setsoto-plaaslike munisipaliteit.
Alhoewel Setsoto deeglik bewus is van jaarlikse reënvalpatrone en gepaardgaande lae damvlakke en droogte, is dié ANC-beheerde munisipaliteit nie daartoe in staat om genoegsame beplanning te doen om watertoevoer aan inwoners te verseker nie.
Die gemeenskap sal, tot daar weer genoeg water is, slegs op Maandae, Woensdae, Vrydae en Sondae toegang hê tot lopende water.
Die ANC se kultuur van krisisbestuur en onvermoë om enige beplanning te doen, het tot gevolg dat inwoners weereens gestraf word te midde van die Covid-19-pandemie. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit eers ‘n poging aanwend om waterverbruik te verminder nadat damvlakke onder sy toesig tot 0% gedaal het.
Die VF Plus het reeds in ‘n skrywe aan die speaker van die raad, Krog Mokhuoane , versoek dat daar in die komende jare beter beplanning en bestuur rondom waterbronne gedoen moet word.
Inwoners verdien beter en daarom sal die VF Plus in die voorste linie wees om seker te maak dat hierdie nalatigheid nie herhaal word nie.
Navrae: 078 646 1289