Die poskantoor op Senekal se deure is oop en al vier personeellede is getrou op hul pos, maar bykans geen diens is moontlik nie weens ʼn gebrek aan elektrisiteit.
Die Nasionale Poskantoor is tans onder sakeredding en sy lopende rekening kan nie gebruik word om voorafbetaalde krag by die Setsoto-plaaslike munisipaliteit aan te koop nie.
Die gebrek aan elektrisiteit is maar een van die probleme wat die poskantoor op Senekal ervaar. Geen geld mag vir daaglikse bedryfskostes aangewend word sonder die uitdruklike goedkeuring van Business Rescue Practitioners se goedkeuring nie.
Business Rescue Practitioners wat in Pretoria gesetel is, is aangestel om die Poskantoor te administreer om sy skuld van R9 miljard te probeer delg.
Inwoners van Senekal wat afhanklik is van Sassa-pensioene of -toelaes sal nie gehelp kan word wanneer uitbetalings vanaf volgende Donderdag moet begin nie.
Verlede maand was daar reeds probleme met die Postbank se Sassa-uitbetalings en nou word begunstigdes weer in die steek gelaat.
In antwoord op navrae aan die minister van kommunikasie se kantoor blyk dit dat dié departement ook nog op antwoorde wag.
Dit is kommerwekkend dat selfs die minister nie ʼn oplossing vir die probleem het nie.
Die Poskantoor is net nog ʼn staatsentiteit wat die ANC vernietig het tot nadeel van die mees weerloses in die samelewing.