Die swak toepassing van gesondheidswetgewing in Gauteng kon moontlik ʼn rol gespeel het in die dood van ʼn laerskoolkind wat Vrydag oorlede is ure ná hy ʼn pakkie koekies by ʼn spaza-winkel naby die skool gekoop het.
Die graad 3-leerder van die Wes-Rand is by ʼn plaaslike kliniek oorlede nadat hy en sy maat na bewering voedselvergiftiging opgedoen het.
Informele handelaars en spaza-winkels wat voedsel, groente en vrugte verkoop, word nie gedwing om aan dieselfde streng gesondheidsregulasies te voldoen as byvoorbeeld restaurante, supermarkte en selfs varsproduktemarkte nie.
Hierdie instansies moet aan die strengste gesondheidsregulasies voldoen juis om gesondheidsrisiko’s weens substandaard voedsel uit te skakel.
Die Gautengse departement van onderwys het ná die voorval skoolbeheerliggame, ouers en gemeenskappe aangemoedig om versigtig te wees wanneer hulle voedsel by informele handelaars koop.
Dit is egter nie genoeg nie.
Die VF Plus het die Gautengse gesondheidsdepartement versoek om die wetgewing rakende die verkoop van voedsel strenger toe te pas op informele handelaars om verdere lewensverlies te voorkom.