Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sedibeng Water kon waterkrisis in Namakwaland voorkom

Sedibeng Water kon met die nodige beplanning en ingryping die huidige waterkrisis wat Namakwalandse dorpe beleef, voorkom het.

Met die Oranjerivier in vloed, is die pompstasie by Henkries (‘n nedersetting naby Goodhouse), wat water aan 'n groot deel van Namakwaland verskaf, oorstroom. Tydrowende en duur herstelwerk sal gedoen moet word voordat watervoorsiening weer sal normaliseer.

Die VF Plus lê die krisis voor die deur van Sedibeng Water, wat vir watervoorsiening vanuit die Oranjerivier aan Namakwaland verantwoordelik is.

Die huidige vloed is al etlike weke aan die opbou. Watervloei word by die onderskeie damme en ander bakens in die hele Oranjerivierstelsel gemeet. Dat hierdie buitengewone volume water Henkries sou bereik, was voorspelbaar. Daar was dus voldoende tyd vir Sedibeng Water om pompe na 'n veilige hoogte te verskuif.

'n Vraag wat onwillekeurig ontstaan, is of die gebrekkige besluitneming daarmee te doen het dat die hoofkantoor van Sedibeng Water in Bothaville, meer as 'n duisend kilometer van Henkries af, geleë is.

Die VF Plus het al herhaaldelik standpunt ingeneem dat besluite oor dienslewering gemaak moet word waar die dienste gelewer word. Die party bevraagteken die wysheid daarvan dat 'n instelling soos Sedibeng Water vir gebiede so ver uitmekaar se watervoorsiening verantwoordelik is. Die organisasie se operasionele gebied strek tans oor drie provinsies: die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap.

In die Noord-Kaap is bestuur van water een van die mees deurslaggewende owerheidsfunksies. Daarom sal die VF Plus voortgaan om hom vir plaaslike beheer daaroor te beywer.

Navrae: 082 561 4668

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.