fbpx
Vryheidsfront Plus

Nasionale minimumloon: Staat dwing maksimum op privaatsektor af, maar sien homself oor

Die nuwe nasionale minimum wat vanaf 1 Maart 2021 van toepassing gaan wees en voorsiening maak vir ‘n 4,5% verhoging op die vorige minimumloon, sal lei tot selfs groter werksverliese in ‘n tyd van ongekende werkloosheid in Suid-Afrika.

As gevolg van die huidige ekonomiese resessie en die COVID-19-inperkings, neem werkloosheid toe en sukkel veral klein sakeondernemings om ‘n bestaan te maak. Die regering moet ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor skep om te midde die moeilike omstandighede ekonomiese groei te bewerkstellig en werk te skep.

Die feit dat die nuwe minimumloon vir plaaswerkers aangepas is met ‘n 16%-verhoging om gelykstaande te wees aan die nasionale minimumloon, sal ook werksverliese in hierdie sektor veroorsaak.

Net so die verhoging vir huiswerkers wat met sowat 22% aangepas is. Billike en regverdige vergoeding vir arbeid moet geskied, maar die skerp stygings in die minimum besoldiging vir hierdie werkers gedurende ‘n pandemie en die gepaardgaande verhoogde druk wat dit op privaatsektor se werkgewers plaas, is onbillik en onsinvol.

Dit sal hierdie werkgewers noop om van hul werkers af te lê ten einde die nuwe lone te kan bekostig.

In teenstelling met die sterk posisie wat deur die nasionale minimumloon-kommissie en die minister van arbeid, Thulas Nxesi, en sy departement ingeneem word oor die betaling van ‘n vasgestelde minimumloon van R21,69 per uur deur privaatsektorwerkgewers, is werkers van die departement van openbare werke se uitgebreide openbare werkeprogram (EPWP) dit nie beskore nie.

Die minimumloon vir hierdie werkers is vasgestel op R11,93. Die argument van die nasionale minimumloon-kommissie hiervoor is dat die styging in die minimumloon die ekonomie sal stimuleer deur arm mense se koopkrag te verhoog.

Dit sluit klaarblyklik nie werkers van die openbare werkeprogram of werkers wat hul werk weens hierdie verhogings sal verloor, in nie.

Die VF Plus is van mening dat alle werkers in Suid-Afrika billik en regverdig behandel moet word en dit sluit billike en regverdige betaling in, maar deur werkgewers se kele af te sny met buitensporige verhogings en groter werkloosheid as gevolg daarvan te veroorsaak, oorskry die lyn van ekonomiese volhoubaarheid.

Die verhoging van die nasionale minimumloon dra nie tot ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor by nie en sal lei tot ondernemings wat hul deure moet sluit en gepaardgaande verdere werksverliese.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.