Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sanral mag nie eis teen padkonstruksie-maatskappy laat vaar tensy hulle opdok vir Gauteng se e-tolstelsel

Die besluit van Sanral om na jare sy eis te laat vaar teen konstruksiemaatskappye wat op bedrieglike wyse deur samespanning betrokke was by onder meer die opgradering van die Gautengse paaie-infrastruktuur, kom in wese daarop neer dat die padgebruikers vir dié bedrogspul moet pa staan, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Luidens ‘n berig vandag in Bussiness Day het Sanral besluit om sy eise teen maatskappye wat betrokke was by die samespanning te laat vaar omdat die maatskappye ooreengekom het om ‘n skikkingsbedrag te betaal. Die bedrag sal glo gebruik word vir transformasie in die bedryf.

Dit volg nadat die Mededingingstribunaal in 2014 reeds 28 eisesertifikate aan Sanral toegeken vir werk wat deur verskeie konstruksiemaatskappye gedoen is.

Sanral het toe aangekondig dat hy saam met kundiges werk om vas te stel wat die bedrae ter sprake was en presies hoeveel hy van die maatskappye sou terugeis.

Dit was goeie nuus vir die padgebruikers wat die swaar, bykomende las moes dra vir die oneerlike praktyk van miljarde rande. Teen middel 2014 het Sanral se skuld vir die opgradering reeds sowat R20 miljard beloop.

Adv. Alberts sê dit laat die vraag ontstaan waar dit padgebruikers van Gauteng laat wat steeds moet opdok vir e-tol om ‘n skuld te delg wat kunsmatig hoog is juis vanweë, onder meer, die samespanning tussen maatskappye.

Hy sê die VF Plus eis dat Sanral voortgaan met sy eis om die e-tolstelsel se skuld te delg en om die e-tolstelsel daarna af te skaf.

“Geen ander uitkoms is aanvaarbaar nie. Daar is dus ‘n wyse om alle skuld rondom die Gautengse padopgraderings te verhaal sonder om ‘n sent van die padgebruiker te vra. Sanral het ‘n plig om daardie roete te volg.

“Die bedrag wat betrokke is by die korrupsie wat landwyd tussen die maatskappye gepleeg is en wat wissel van die Groenpunt-stadion tot die Gautengse tolstelsel, is waarskynlik ongeëwenaard in Suid-Afrika.

“Byna die helfte daarvan behels projekte aan paaie en dit kan ‘n beduidende verskil maak aan Sanral se skuld. Die VF Plus sal ‘n parlementêre vraag aan die minister van vervoer rig in hierdie verband,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.