Die VF Plus vind dit vreemd dat SANRAL en die departement van vervoer nou skielik voorleggings aan die E-Tol-hersieningspaneel wil maak nadat hulle die paneel in die publiek afgemaak het en die legitimiteit daarvan bevraagteken het,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Adv. Alberts sê die afkraking van die paneel deur SANRAL en die departement het neergekom op minagting van die Grondwet aangesien hulle die bevoegdhede van provinsies sodoende misken het.
Hy sê dit is wel binne die grondwetlike bevoegdhede van ‘n premier van ‘n provinsiale regering om ‘n ondersoek te laat doen na enige ekonomiese kwessie binne die provinsie en om aan die hand daarvan ‘n grondwetlike dispuut met die nasionale regering te verklaar en selfs hof toe te gaan om die nasionale regering se dade te hersien.
“Die VF Plus is bekommerd oor die eensydige voorlegging wat SANRAL en die regering aan die paneel sal maak en gaan daarom die paneel vra dat die sitting vir die publiek oopgestel word sodat belanghebbendes dadelik teenoor die paneel kan reageer indien SANRAL en die regering valse voorleggings sou maak.
“Belanghebbendes, soos OUTA sal dan ook die geleentheid hê om SANRAL en die regering voor die paneel te dwing om blootleggings te maak rakende inligting wat tot dusver moeilik verkrygbaar was, soos die inhoud van die kontrak tussen SANRAL en die Oostenrykse diensverskaffer KapschTrafficom,” sê adv. Alberts.
Kontaknommer: 083 419 5403