Net soos met Nkandla, ontwyk pres. Jacob Zuma steeds belangrike vrae van die VF Plus oor regsadvies wat die president ingewin het oor die grondwetlikheid van die E-Tolwet voordat hy die wet onderteken het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens adv. Alberts probeer hy sedert verlede jaar sonder sukses om antwoorde oor die aangeleentheid van die president te kry. Hy het nou geskrewe parlementêre vrae aan die president gerig, maar ook dit is ontwykend geantwoord.
Die vrae is of die president enige regsmening ingewin het oor die grondwetlikheid van die Wysigingswet op Vervoer en Verwante aangeleenthede, Wet 3 van 2013, en indien nie, waarom nie. Waarom hy nie ag slaan op onafhanklike regsvoorleggings in die verband nie, en indien hy nie daarop ag slaan nie, van hoeveel regskenners het hy wel ‘n mening gekry, wie is hulle en wat was die advies van elk.
Daar is ook gevra of die publiek kan insae kry in die regsmenings, en indien nie, waarom nie, en indien wel, waar dit verkry kan word.
Die antwoord lui bloot: “Die Grondwet is die hoogste wet in die land, en aangesien Suid-Afrika ‘n demokrasie is, spreek dit vanself dat, waar ek in die uitvoering van my grondwetlike pligte wette goedkeur of na die parlement verwys, ek die Grondwet te alle relevante tye in ag neem”.
Adv. Alberts sê die antwoord is onbevredigend is tekenend van ‘n gewoonte van die president om sensitiewe vrae te ontduik of ontwykend te beantwoord.
“Wat ons hier sien, is presies wat rondom die Nkandla-skandaal plaasvind. Daar kom net nie bevredigende en reguit antwoorde op vrae rakende gevoelige kwessies van die president nie. Die VF Plus het verlede jaar reeds in skrywes aan die president uitgewys dat e-tol nie grondwetlik is nie aangesien die wet verkeerd geklassifiseer is.
“Hierdie regsmening het wye erkenning onder regslui geniet, en die VF Plus se inligting was ook dat die president se eie regskenners daarmee eens was.
“Daar is bloot nie ag geslaan op verskeie skrywes en opvolgskrywes om antwoorde te verkry nie. Nou wil die president selfs op geskrewe vrae nie reguit antwoorde verskaf nie. Die VF Plus sal weer die vrae aan hom rig en verwag hierdie keer volledige antwoorde,” sê adv. Alberts.
Kontaknommer: 083 419 5403