Die ekostelsel in die Blue Gill-dam in Kemptonpark is deels vernietig nadat riool vier dae lank die dam binnegevloei het.
Die VF Plus het dadelik die storting aangemeld, maar die Ekurhuleni-metro se departement van water en sanitasie het vier dae lank voete gesleep om die probleem op te los.
Die party sal die saak met die volgende raadsvergadering ter tafel lê met die versoek om alle voorsorg maatreëls in te stel om ʼn volgende storting te voorkom.
Intussen het ʼn groot hoeveelheid visse en voëls gevrek omdat die natuurlike ekologie in die dam nadelig beïnvloed is.
Hierdie is die derde rioolstorting in die Blue Gill-dam ná voorvalle in 2007 en 2018.
Die plaaslike gemeenskap het ook hul kommer oor die rioolstorting uitgespreek. Besoekers aan die dam is gemaan om nie aan wateraktiwiteite deel te neem nie.
Ontwikkeling vind ook rondom die dam plaas.
Die agteruitgaan van die rioolinfrastruktuur in Kemptonpark kan nie langer toegelaat word onder die ANC-regering nie.
Hierdie verwaarlosing bedreig nie net die omgewing nie, maar ondermyn ook die lewenskwaliteit van die inwoners.
Die VF Plus is daartoe verbind om die Ekurhuleni-metro aanspreeklik te hou vir hierdie growwe wanbestuur.
Die VF Plus kan nie toekyk hoe die omgewing tot niet gaan weens die mislukkings van die ANC-geleide administrasie nie.


