Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) het die jongste sondebok geword wat die grootskaalse storting van rou riool in grondwater, spruite en riviere aanbetref.
ʼn Oorsigbesoek saam met omgewingsbewaarders het aan die lig gebring dat beide die Flip Human- en Percy Stewart-rioolwerke wanfunksioneel is en dat rou riool op groot skaal gestort word in die Blaauwbanks- en Rietspruit wat vloei na die Vaal- en Krokodilrivier wat uiteindelik in onder meer die Hartebeespoortdam beland.
Verskeie pompstasies in die munisipaliteit is wanfunksioneel of nie in staat om die volume wat daardeur vloei, te akkommodeer nie.
Die oorvloei van die pompstasies te Magaliesburg, Munsieville en Pine Haven dra ook verder by tot grootskaalse rioolstoring en besoedeling van water in die Wieg van die Mensdom met die gevolg dat talle landboubedrywighede gestaak moes word en toeristeoorde moes sluit.
Rou onverwerkte riool van die Brickvale-behuisingsprojek by Tarlton wat op dolomiet gebou is, beland ook direk in die grondwater omdat die pompstasie nog nooit geaktiveer is nie.
Buiten die besoedeling van grondwater dra dit by tot die vorming van sinkgate in die dolomietiese grondformasie.
Mogale City is in die proses om die Dr. Sefularo Village-hoëdigtheid-behuisingsprojek by Hekpoort te begin wat nie aan die vereistes van Spluma-wetgewing voldoen nie.
Hierdie ontwikkeling se riooloorvloei is tans onder konstruksie en mond reg bo die Magaliesrivier uit.
Mogale City ignoreer die pleidooie van die publiek, omgewingskundiges en raadslede die afgelope twaalf jaar reeds om in te gryp om ʼn humanitêre ramp af te weer.
Gereelde toetse van die WNNR dui daarop dat die water in die Wieg van die Mensdom tans die swakste klassifikasie naamlik E en F ontvang het.
Die aangeleentheid is onder die aandag gebring van die LUR vir omgewingsake in Gauteng, Shyla Peters.
Die VF Plus lei ook eersdaags die portefeuljekomitee om ʼn uitgebreide oorsigbesoek aan die omgewing te bring om sodoende provinsiale en selfs nasionale ingrepe te bewerkstellig om die krisis af te weer.
Talle wanfunksionele munisipaliteite in Gauteng is verantwoordelik vir grootskaalse besoedeling en begaan in dié geval by implikasie ook ʼn oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Wêrelderfenisbewaringswet.
Die VF Plus sal homself daarvoor bly beywer om deur sy portefeulje die uitvoerende gesag in plaaslike owerhede sowel as op provinsiale en nasionale vlak verantwoordbaar te hou.


