Terwyl die VF Plus en talle ander organisasies saam met skoolhoofde en skoolbeheerliggame ʼn aksieberaad oor die Bela-wet bygewoon het, het die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys in Upington bewys dat die wet in sy huidige vorm ten alle koste gestuit moet word.
Die voorsitter, me. Joy Maimela, het kommentaar gelewer op ʼn skool in Upington waarvan die aansoekvorms slegs in Afrikaans beskikbaar is.
Uit mediaberigte blyk dit dat die portefeuljekomitee die Hoërskool Duineveld besoek het na aanleiding van ʼn rassevoorval waarin leerlinge van die skool vroeër vanjaar betrokke was. Dit is belangrik om daarop te let dat die VF Plus optrede van hierdie aard verwerp en glo dat dit as ernstige wangedrag hanteer moet word soos die skool inderdaad gedoen het.
As deel van haar reaksie het Maimela luidens ʼn berig in Netwerk 24 op 10 Oktober haar “skok” uitgespreek daaroor dat die meeste kinders in die skool wit is, terwyl die meeste mense in die omgewing bruin en swart is. Verder het sy verklaar dat die Afrikaanse aansoekvorm ʼn manier is om nie-Afrikaanse leerlinge uit te sluit.
Dit lyk of Maimela nie veel baat gevind het by die besoek aan Upington in die vorm van eerstehandse kennis nie.
Met Afrikaans wat die huistaal van meer as 85% van die dorp se inwoners is, is dit verstaanbaar dat mens op straat eintlik niks anders as Afrikaans hoor nie. Die kans is goed dat sy slegs in ʼn polisie-begeleide bussie van plek tot plek gereis het en haarself nooit die kans gegun het om die aard van Upington van naderby te leer ken nie.
Indien daar ʼn dorp is met ruimte vir enkelmedium Afrikaanse skole, is dit juis Upington.
Verder ly sy klaarblyklik aan ʼn misverstand wat algemeen binne die ANC is. Dit is dat elke skool die demografie van die totale bevolking móét weerspieël. Wat die wet in werklikheid vereis, is dat daar teen niemand op grond van ras gediskrimineer mag word nie.
In ʼn omgewing met talle goeie skole, wat verskillende opvoedkundige keuses bied, het elke ouer ʼn keuse. ʼn Mens kan nie, wanneer mense hul keuses uitgeoefen het, omdraai en vereis dat meer bruin of swart mense vir ʼn spesifieke skool gekies moes word nie.
Dit is duidelik waarom die ANC op ʼn skolewet aandring wat die magsbalans in die rigting van die departement kantel: Dit is om gemeenskappe die reg om hul skole in stand te hou, eensydig in te kort onder die waan dat die 5% Afrikaanse skole alle onderwysprobleme kan oplos as hulle net hul aard prysgee.
Indien die VF Plus Maimela, wat nog nuut in haar pos as voorsitter is, kan raad gee, is dit die volgende: Gebruik oorsigbesoeke eerder om te luister as om te praat.
Daarom moedig die VF Plus al sy ondersteuners aan om op 5 November aan die protesoptrede teen Bela by die Uniegebou deel te neem.


