Die Renosterberg-plaaslike munisipaliteit (Petrusville, Philipstown, Van der Kloof) se riool kan ondanks verskeie pogings om dit te voorkom, die Vanderkloofdam binnekort bereik.
Die Vanderkloofdam se water is betreklik skoon. Dit sorg grootliks daarvoor dat die Oranjerivier se watergehalte op aanvaarbare vlakke gehou word.
Die Hondeblafrivier wat deur Philipstown na die Vanderkloofdam vloei, ontvang weens gebrekkige onderhoud aan ʼn rioolaanleg onverwerkte riool uit die dorp se stelsel.
Die stelsel bestaan uit etlike damme waar riool verwerk behoort te word voordat dit deur die Hondeblafrivier in die ekologie teruggeplaas word.
Die riool word egter direk in die onderste dam gepomp wat beteken dat die hele stelsel nie benut word nie. Hierdie dam was gebreek en is herstel, maar is tans weer besig om onverwerkte riool deur te laat.
In ‘n gewone jaar sou hierdie ekologiese ramp van plaaslike aard gewees het, maar dit is nie onmoontlik dat dié riool met die afgelope goeie reën via die rivier die Vanderkloofdam kan bereik nie.
Waar vee van dié water kom suip, kom selfs vrektes voor. Op munisipale grond het ‘n rondloperbees gevrek en in die water beland. Die munisipaliteit doen nie eers die moeite om die karkas te verwyder nie.
Aangesien die Oranjerivierstelsel van nasionale belang is sal die VF Plus die probleem na die nasionale regering verwys en aandring op toepaslike optrede.


