Die VF Plus het die Ekurhuleni-metroraad se burgemeesterskomiteelid vir finansies, Nkululeko Dunga, gewaarsku om die metro se dispuut met Eskom oor uitstaande skuld by te lê om diensleweringsprobleme te voorkom.
Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het tydens sy energieberaad in Sandton gemeld dat Ekurhuleni se Eskomskuld R2,9 miljard beloop.
Ekurhuleni ontken dit en sê die bedrag is vir rente wat Eskom hef omdat die metro nie elke 15 dae sy rekening vereffen nie, maar elke 30 dae.
Dunga het egter erken dat die metro en Eskom in ʼn dispuut gewikkel is, maar dat die metro Eskom niks skuld nie.
Die VF Plus het Dunga gewaarsku om die dispuut dringend op te los voordat Eskom die hooggeregshof nader en ʼn beslagleggingsbevel teen die metro bekom.
Dié tipe beslagleggingsbevel sluit dikwels in die bevriesing van ʼn lopende bankrekening en selfs die beslaglegging op munisipale voertuie wat dienslewering negatief kan beïnvloed.
Die VF Plus het ook voorgestel dat die metro Eskom dringend nader om aansoek te doen om ʼn skuldbestuursplan oor die uitstaande bedrag soos wat die nasionale tesourie aan munisipaliteite gebied het.
Volgens die finansiële departement is dit nie nodig nie omdat die metro nie agterstallig is nie.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen om vas te stel waarvoor die R2,9 miljard aan Eskom verskuldig is om toe te sien dat dienslewering aan inwoners nie benadeel word nie.


