Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse regering moet dadelik ingryp by Mogale City se rioolbesoedeling

Die VF Plus het in ʼn dringende skrywe aan die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Mzi Khumalo, geëis dat daar dadelik teen die Mogale City-plaaslike munisipaliteit opgetree moet word om sy voortslepende rioolbesoedeling op te los.

Die tyd vir praat is verby en daar sal daadwerklik ingegryp moet word om die inwoners van Mogale City se grondwetlike reg om in ʼn omgewing te woon en werk wat nie skadelik is vir hul gesondheid nie, te eerbiedig.

Die VF Plus het verlede Vrydag, ná vele klagtes van inwoners wat langs die Tweelopiespruit woon, ʼn oorsigbesoek aan die spruit in Hekpoort gebring.

Onverwerkte riool stroom uit die Percy Steward-aanleg aan die buitewyke van Krugersdorp in die Tweelopiespruit.

Die Tweelopiespruit mond uit in die Hartbeespoortdam.

Die Percy Steward-rioolaanleg, aan die buitewyke van Krugersdorp, is reeds die afgelope vyf jaar buite werking.

Die VF Plus is met sy besoek aan die Tweelopiespruit begroet met die ondraaglike reuk van riool.

Dit is juis dié reuk wat inwoners langs die spruit en eienaars van ondernemings, restaurante en gastehuise warm onder die kraag het.

Volgens gastehuis-eienaars verloor hulle gaste op groot skaal weens die besoedeling en die feit dat hulle nie eens meer in hul tuine kan kuier nie.

Skoolkinders in die omgewing moet ook die spruit kruis om by skole uit te kom.

Boere se diere kan nie meer uit die spruit suip nie en die besproeiing van gewasse moes stopgesit word.

Riool loop ook vanuit die aanleg in die Blougatspruit wat uitloop in die Riet- en dan in die Bloubankspruit wat deur die Wieg van die Mensdom loop.

Dié gebied is ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied wat die fossielhominied-terreine van Sterkfontein, Swartkrans, Kromdraai en omstreke insluit. Dit is ʼn groot toeriste-aantreklikheid.

Die VF Plus het al voorheen die probleme met die Percy Steward- en Magalies-rioolaanlegte onder die Mogale City-plaaslike munisipaliteit en Cogta se aandag gebring.

Die Magaliesburg-rioolaanleg, wat sewe jaar gelede teen ʼn bedrag van R84 miljoen voltooi is, funksioneer sedert sy onstaan nie ten volle nie.

Riool spoel oor die walle van verwerkingsdamme na die Magaliesrivier wat ook uitmond in die Hartbeespoortdam.

Die Gautengse regering het reeds vier keer Mogale City amptelik aangesê om die betrokke rioolaanlegte te herstel, maar die munisipaliteit het bloot gereageer deur te sê dat hy nie oor die fondse beskik nie.

Die Gauteng-regering het selfs boetes van meer as R10 miljoen aan Mogale City opgelê weens die nienakoming van water- en sanitasieregulasies. Dit is ook nie betaal nie.

Mogale City kan nie langer wegkom met die besoedeling van kosbare waterbronne en die omgewing nie.

Die VF Plus is ook besig om ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) in te dien weens die besoedeling.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.