fbpx
Vryheidsfront Plus

Regulasie word oortree met 4 045 onopgeëiste lyke by staatslykshuise

Daar is tans weens verskeie redes 4 045 onopgeëiste lyke by staatslykshuise in Suid-Afrika wat ’n oortreding van die betrokke gesondheidsregulasie skep én ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak.

Die VF Plus het dit vasgestel met ’n parlementêre vraag aan die minister van gesondheid, Joe Phaahla. Die getal per provinsie is:

• KwaZulu-Natal : 1 509
• Gauteng : 1 049
• Limpopo : 353
• Wes-Kaap : 350
• Oos-Kaap : 315
• Noordwes : 251
• Vrystaat : 108
• Mpumalanga : 68
• Noord-Kaap : 42

Die vraag is aan die minister gestel aangesien hy die geskrewe vraag oor dit op 9 Junie 2023 nie voldoende kon beantwoord nie en slegs melding gemaak het van vyf provinsies.

Die VF Plus sal self navorsing doen om vas te stel of die syfers wel akkuraat is.

Die VF Plus het die minister daarop gewys dat die party klagtes van die publiek ontvang het van lyke wat met yssakke toegepak word omdat daar nie plek in die staatslykhuis is nie en van lyke wat tot twee jaar lank in lykshuise gehou word.

Luidens onlangse mediaberigte is die agterstande by staatslykshuise deels te wyte aan ʼn tekort aan patoloë. In een geval moes ʼn familie ’n gestorwene se reeds ontbinde lyk gaan uitken.

Dringende maatreëls moet in plek gestel word om te verseker dat hierdie probleem nie verder eskaleer nie. Daar moet sonder meer voorsiening gemaak word dat lykshuise se kapasiteit by die getalle aanpas om ’n krisis te voorkom.

Die huidige situasie behels ’n oortreding van regulasie 180, artikel 10 van die Nasionale Gesondheidswet wat bepaal dat ʼn persoon binne dertig dae ná afsterwe begrawe moet word.

In die geval waar daar geen familie betrokke is nie of waar hulle nie ʼn begrafnis kan bekostig nie, moet die staat die oorledene as ʼn armlastige laat begrawe.

Inligting wat die VF Plus ontvang het, dui daarop dat probleme met betaling van die staat aan begrafnisondernemers meermale daartoe lei tot begrafnisse nie plaasvind nie en opeenhopings veroorsaak.

Dit blyk tans dat gesprekke tussen die forensiese patologiese dienste, plaaslike munisipaliteite en die polisie nie ʼn oplossing vir hierdie probleem kan vind nie.

Bestaande wetgewing hieroor sal waarskynlik aangepas moet word en alle rolspelers in die bedryf sal daarby betrek moet word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.