In nóg ‘n wending in die tweejaarlange poging van die Turkse Karpowership-maatskappy om krag aan Suid-Afrika te lewer, het hy nou aangebied om ‘n wildsplaas aan Ezemvelo KZN Wildlife (voorheen die provinsiale parkeraad) te skenk.
Die moeilikste hekkie vir Karpowership om te oorkom, is omgewingsgoedkeuring. Die maatskappy verwys daarna as biodiversiteit-uitruiling.
Dit lyk hoogs ontoepaslik, aangesien omgewingsklaring vir die drywende gasaangedrewe kragstasie in die ekologies kwesbare maritieme omgewing van Richardsbaai die hindernis is. Om te dink dat ‘n wildsplaas – wat per definisie op land is – daarvoor kan vergoed, maak geen ekologiese sin nie.
Die onverstaanbare deel van hierdie aanbod is dat sowel Karpowership as die regering telkens probeer om hierdie transaksie deur te druk en dat dit nie meer aan die beskrywing “noodkrag” voldoen nie.
Toe dit in 2021 die eerste keer ter sprake was, is voorsien dat kraglewering reeds in Augustus 2023 sou begin.
In dié tydsbestek het gewone Suid-Afrikaners (huishoudings en ondernemings) reeds sowat 4 gigawatt se sonkrag geïnstalleer. Dit is dubbeld die 2 gigawatt wat al drie Karpowership-skepe in Richardsbaai, Ngqura en Saldanhabaai beloof om te lewer.
Gestel toestemming sou vandag verkry word, sal dit na berekening nog sowat twee jaar neem om die netwerk só aan te pas dat die skepe se krag aan verbruikers gelewer kan word.
Die buitengewoon hoë tarief en twintigjaarkontrak wat in vooruitsig gestel is, is juis geregverdig deur te beweer dat kragskepe die krisis vinnig sou verlig.
Die VF Plus vra opnuut die vraag watter voordeel word met die omstrede Karpowerships nagejaag, want dit lyk nie of dit regtig oor die noodvoorsiening van elektrisiteit gaan nie.
Suid-Afrika verdien beter – ‘n regering wat kragvoorsiening ernstig opneem.