Die VF Plus het ernstige bedenkinge oor die werkbaarheid van Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se noodknoppie-projek wat die provinsie kwansuis veiliger moet maak.
Lesufi wil die projek as een van die pilare gebruik om die inwoners van Gauteng teen misdaad te beskerm.
Die kern van die probleem is egter dat die reaksiedienste waaraan die noodknoppie gekoppel is, soos die polisie, staatsambulanse en die brandweer, self gebuk gaan onder wesenlike tekorte wat effektiewe dienslewering belemmer.
‘n Mens kan eenvoudig nie duur, nuut geskepte tegnologie koppel aan ou reaksie-stelsels wat op die rand van inploffing staan nie.
Tydens ‘n mondelinge vraag-en-antwoordsessie in die Gautengse wetgewer, het Lesufi verduidelik hoe die noodknoppie-projek sal werk na aanleiding van vrae gestel deur die VF Plus.
Hy het verduidelik dat die noodknoppie deur die provinsiale regering ontwikkel word by wyse van ‘n maatskappy wat op tendergrondslag aangestel is. Die rede waarom bestaande noodknoppie-tegnologie kwansuis nie gebruik word nie, is volgens Lesufi onder meer om unieke funksies in die noodknoppie in te bou wat tans nie bestaan nie.
Volgens hom is die ontwikkelde tegnologie ook goedkoper as die wat reeds op die mark is.
Die VF Plus sal self ‘n ondersoek in dié verband doen en vasstel of die suksesvolle tenderaar wel in staat is om ‘n produk van gehalte te lewer.
Die wese van die probleem bly steeds dat die reaksie-dienste tans self nie behoorlik dienste kan lewer nie. Die polisie in Gauteng het talle voertuie wat buite werking is, talle voertuie het nie tweerigting-radio’s nie, en telefone in polisiekantore word nie beantwoord nie.
Die Johannesburgse brandweerdiens word telkens uitgedaag by gebou-brande deurdat daar nie voldoende waterdrukking in die stad se pypstelsel is nie, soos in die geval van die Bank of Lisbon-gebou wat in 2018 afgebrand het, of om tegniese redes soos die krisis om die brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in 2021 te blus weens die onversoenbaarheid van die brandweer se brandslang-konneksies met die van die hospitaal se brandkrane.
Nooddiens-personeel van ambulanse is gereeld self die slagoffers van kapings en roof.
Lesufi se antwoord aan die VF Plus nadat die party die diensleweringsprobleme van die reaksie-dienste aan hom uitgelig het, was eenvoudig dat hy diensleweringsvlak-ooreenkomste sal aangaan om goeie dienslewering te verseker.
Die probleem is egter dat die polisie eenvoudig nie eens sy grondwetlike verpligtinge nakom nie en daar dus geen rede is om getrou te bly aan kontraktuele bepalings nie.
Die VF Plus het geen geloof daarin dat die noodknoppie-projek of enige ander teenmisdaad-inisiatief volhoubaar sal werk terwyl die ANC aan bewind is nie.
Die ANC in Gauteng se tyd om knoppies te druk vir ondeurdagte kitsoplossings gaan tot ‘n einde kom in 2024 se verkiesing.