Die VF Plus het vanoggend tydens ʼn sitting van die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur daarop aangedring om insae te kry in die departement se instandhoudingsprogram rakende die staat se geboue.
Die VF Plus het dit beklemtoon dat voete al vir te lank gesleep word om voldoende instandhouding op die staat se geboue uit te voer en dat die instandhoudingsprogram aan die portefeuljekomitee voorgelê moet word om te kan bepaal wat presies die program behels en waarom die instandhouding nie gedoen word nie.
Die VF Plus het ook daarop aangedring dat omvattende inligting rakende die minister se “Operation Bring Back” aan die komitee voorgelê word.
Minister Sihle Zikalala het vroeër die week aangekondig dat die program ten doel het om geboue terug te neem wat gesteel of onwettig oorgedra en beset word.
Die VF Plus is van mening dat die minister nie tydens gister en vandag se vergadering voldoende inligting oor hierdie plan bekend gemaak het nie en dat die komitee nog in die donker is oor wat presies die program behels en hoe dit in werking gestel gaan word.
Al inligting wat die minister tydens gister se vergadering aan die komitee verskaf het, is dat daar spoedig met ʼn proses begin gaan word om sowat 1 260 geboue van die 29 000 wat in die departement se bateregister verskyn en wat beset word, terug te neem.
Die VF Plus versoek die volledige detail oor die program.
Die VF Plus het ook daarop aangedring dat die departement aan die komitee sy bateregister moet verskaf sodat daar vasgestel kan word of die register wel op datum is en of die departement weet waar al sy geboue en grond geleë is.
Die deurmekaarspul wat tans afspeel rondom die staat se geboue is nie ʼn nuwe probleem nie. Die regering het voete gesleep met die instandhouding en opgradering van staatsgeboue en dit het die probleem veroorsaak.