(Begrotingsposdebat in parlement: Openbare werke en infrastruktuur)
Horende doof en siende blind is die beste wyse om die ANC-regering se houding teenoor die verval van infrastruktuur in Suid-Afrika te beskryf.
‘n Reis deur Suid-Afrika skets ‘n prentjie van die totale verval van paaie, spoorlyne, hawens, waterwerke en rioolwerke, elektrisiteitsvoorsiening, stormwaterstelsels en alles wat eens onderhou is en gewerk het.
Benewens die sigbare verval, word daar gereeld departementele verslae oor die verval uitgereik met vermanings om op te tree. Dit val op dowe ore.
Landsburgers moet toenemend tevrede wees met droë krane, riool wat deur hul huise spoel en slaggate in paaie wat tot die dood van onskuldige mense lei.
Mense raak opstandig oor gebrekkige kragvoorsiening, swak openbare vervoer en die algehele verval van spoornetwerke, toilettekorte by skole en selfs ‘n tekort aan water by hospitale en klinieke.
Rioolbesoedeling raak ‘n wesenlike bedreiging vir voedselproduksie. Die lys is eindeloos en klink na iets uit ‘n rillerverhaal.
Volgens die navorsingsmaatskappy Intellidex het Suid-Afrika verlede jaar sowat R70 miljard minder bestee aan infrastruktuur as waarvoor begroot is. Dit het ook uitgewys dat die privaatsektor vaardighede en hulpbronne wat in die openbare sektor ontbreek, na vore bring om infrastruktuur-uitdagings te behandel.
‘n Vaardigheidstekort in die openbare sektor het ‘n belangrike beperking op infrastruktuurbestuur geplaas. Die redes hiervoor is hoofsaaklik ANC-beleid soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat vaardigheid verlore laat gaan het.
Volgens die sektorale onderwys- en opleidingsowerheid is die grootste tekortkominge in die openbare sektor die volgende:
• Finansiële bestuur.
• Beleidsontwikkeling en -analise.
• Leierskap en bestuur.
• Strategiese bestuur en -leierskap.
• Program- en projekbestuur.
Die departement wys self in ‘n verslag uit dat die sleutelrisiko-gebiede is die oneffektiewe uitvoering van die regering se nakomingsprosesse, slegte skuld, ‘n onvermoë om diensleweringsmikpunte te haal, swak onderhoud en die verval van infrastruktuur, ‘n onvermoë om werkskeppingsdoelwitte te haal en swak dienslewering. Die negatiewe effek hiervan verlam ook ander departemente.
Die vraag moet gevra word wat die doel is van die departement van openbare werke en infrastruktuur aangesien hy nie sy mandaat kan nakom nie. Daar is tans ‘n agterstand in die instandhouding van 93 000 staatsgeriewe.
Ander staatsentiteite skuld die departement R3,1 miljard wat sy finansiële situasie aantas en een van die redes is vir die verval van infrastruktuur. Tog word miljarde rande aangewend om mislukte ondernemings soos die SAL te red en miljoene word vermors op naamsveranderinge van stede en dorpe.
Van die uitgebreide werkskeppingsprogram van openbare werke wat bykans ‘n miljoen nuwe poste moes skep teen einde verlede jaar, het niks van gekom nie.
Dan is daar ook vrae oor wat minister Patricia de Lille gaan doen aangaande die Beitbrug-korrupsieskandaal en die chaos wat verlede jaar rondom kwarantyngeriewe ontstaan het.
Daar is ook nog geen duidelikheid oor die Kosibaai-grensprojek waar ‘n muur van 200 meter R48 miljoen gekos het nie. Die VF Plus wag steeds dat ‘n ondersoek hieroor gedoen word.