Die Gautengse departement van gesondheid kan nie langer die oopstel van die Charlotte Maxeka-hospitaal uitstel nie en daarom het die VF Plus die LUR vir gesondheid, Nomathemba Mokgethi, dringend versoek om antwoorde rondom die hospitaal te verskaf.
Die Charlotte Maxeka-hospitaal is in April gesluit nadat ‘n brand by die hospitaal uitgebreek en pasiënte na omliggende hospitale geskuif is.
Intussen ondervind twee ander hospitale in Gauteng, die Helen Joseph- en die Rahima Moosa-hospitaal, watertekorte wat hul werksaamhede striem.
Die LUR moet antwoorde verskaf oor wanneer herstelwerk aan die Charlotte Maxeka-hospitaal begin en wanneer die projek voltooi gaan wees en hoe die watersituasie in die twee ander hospitale opgelos gaan word.
Die VF Plus is van mening dat hospitale in Gauteng nie die dreigende derde vlaag van Covid-19 sal kan hanteer indien die Charlotte Maxeka-hospitaal langer gesluit bly nie. Tydens die tweede vlaag is 150 pasiënte daagliks in die hospitaal behandel.
Die party wil ook by die LUR weet of die departement van gesondheid reeds ‘n ooreenkoms met private hospitale aangegaan het indien daar ‘n tekort aan beddens by staatshospitale ontstaan.
Die sluiting van die Nasrec-veldhospitaal in Februarie vanjaar word bevraagteken omdat alles daarop gedui het dat die pandemie weer kan opvlam en die provinsie voorsiening moes maak vir ‘n derde vlaag.
Die Nasrec-veldhospitaal is in April verlede jaar geopen met 500 isolasiebeddens asook ‘n kwarantyn-afdeling. Die toerusting is intussen na ander hospitale geskuif.
Gesondheidsorg in Gautengse provinsiale hospitale is op sy knieë en met die departement van gesondheid se traak-my-nie-agtige-houding, versleg die situasie daagliks.
Inwoners het die geleentheid om tydens die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap uit te stuur teen die ANC se vernietiging van gesondheidsorg.