fbpx
Vryheidsfront Plus

Maatskaplike probleme sal nie verbeter onder ANC-regering

(Begrotingsposdebat in parlement: Maatskaplike ontwikkeling)

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het die afgelope jaar vele uitdagings gehad. Dit het tot baie frustrasie oor die departement se dienslewering gelei terwyl talle amptenare midde in ’n see van onbevoegdheid steeds hul bes gedoen het.

Hierdie uitdagende omstandighede kan nogtans nie as verskoning gebruik word vir alles wat fout gaan in die departement en die probleme wat Suid-Afrikaners met maatskaplike ontwikkeling ervaar nie.

Nog minder kan ‘n erkenning van die uitdagings gesien word as goedkeuring oor hoe die ANC-regering die departement bestuur sonder om na goeie raad te luister oor hoe om die ware uitdagings van armoede en hongersnood in die land te oorkom.

Suid-Afrika het in ’n welsynstaat verander. Dit is egter onvolhoubaar om 25 miljoen afhanklikes aan welsynstoelaes te hê. Dit is nie die antwoord op die land se armoedeprobleme nie, maar vererger dit.

Daar is menings uit sekere oorde in die regerende party dat die Covid-19-noodtoelaag wat tot einde April vanjaar betaal is moontlik verleng of selfs heeltyds ingestel moet word. Daar is egter nie geld daarvoor nie. Dié geld moet van die private sektor kom wat tans self onder beleg is.

Die dreigement dat mense in opstand sal kom indien die noodtoelaag gestaak word, is onaanvaarbaar. Dit is die ANC-regering se skuld dat die land in ’n ekonomiese verknorsing is en dit is die ANC wat mense geleer het dat probleme deur opstand en geweld besleg moet word.

Die regering moet ophou om sy verantwoordelikhede te ontduik deur die skuld vir alle mislukkings en probleme op die verlede te pak. Daar moet opgetree word teen staatsondernemings wat misluk en teen almal wat hulle skuldig maak aan bedrog en korrupsie, ongeag of dit kaders, kamerade of familielede is.

Die gebruik van elektroniese stelsels vir aansoeke om die meeste toelaes en om doktersafsprake te maak vir die goedkeuring van ongeskiktheidstoelae, is tegnies gesproke ’n stap in die regte rigting en kan verhinder dat mense onnodig lank in lang toue staan net om weggewys te word oor iets soos ’n bank se datumstempel wat nie op ‘n bepaalde dag bekom is nie.

In die praktyk skep so ‘n stelsel sy eie uitdagings in Suid-Afrika. Luidens onlangse statistiek het die land se geletterdheidskoers met 7% afgeneem. Die meeste Suid-Afrikaners woon op die platteland en is nie tegnologies vaardig nie, of het bloot nie die tegnologie soos rekenaars en slimfone tot hul beskikking nie.

Sassa het onderneem om personeel op te lei om mense te help met die elektroniese stelsel, maar hy verkeer reeds onder druk weens personeeltekorte wat sukkel om die huidige werk te doen. Die nasionale ontwikkelingsagentskap sou dalk hiermee kon help, maar oor sy werksaamhede en bevoegdheid hang ook vrae.

Die waarheid is dat kaderontplooiing, korrupsie en verkeerde prioriteite die departement en al sy entiteite tot so ’n mate lamgelê het dat hulle geensins ’n impak kan maak om op volhoubare wyse mense se lewensomstandighede te verbeter nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.