Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Regering se versuim laat SA se motorbedryf in krisis en skaad beleggersvertroue

Die toekoms van Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) en daarmee saam meer as 4 000 direkte werksgeleenthede en tienduisende poste regdeur die motorwaardeketting is ernstig in gevaar weens die regering se volgehoue versuim om daadwerklik op te tree met noodsaaklike beleidsaanpassings vir die motorbedryf.

Volkswagen het nou onomwonde aangedui dat 2026 ’n maak-of-breek jaar vir hom in Suid-Afrika sal wees.

Ten spyte van herhaalde gesprekke met die departement van handel, nywerheid en mededinging, en selfs ’n formele skrywe aan president Cyril Ramaphosa, was daar tot dusver geen betekenisvolle beleidsreaksie van regeringskant nie. Gesprekke sonder optrede is nie leierskap nie, dit is nalatigheid.

Hierdie gebrek aan optrede stuur ’n uiters negatiewe sein na die internasionale beleggingsgemeenskap. Omdat kapitaal mobiel is, het vervaardigers keuses. Wanneer Suid-Afrika nie beleidsekerheid, mededingendheid en dringendheid kan bied nie, beweeg beleggings eenvoudig na ander lande soos Egipte, Indië of Asië. Sodra dit verlore is, keer daardie beleggings selde terug.

Die versuim om die Motorbedryf-meesterplan 2035 by die huidige realiteite aan te pas, versnel deïndustrialisasie, ondermyn lokalisering en stel die land bloot aan grootskaalse werksverliese in een van Suid-Afrika se mees strategiese sektore. Die motorbedryf is ’n hoeksteen van uitvoere, vaardigheidsontwikkeling en vervaardigingskapasiteit.

Om dit deur beleidsverlamming te laat agteruitgaan, is ekonomies roekeloos.

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan planne nie maar wel ’n tekort aan uitvoering, spoed en politieke wil.

Die regering móét nou daadwerklik optree om beleggersvertroue te herstel, werksgeleenthede te beskerm en te verhinder dat Suid-Afrika weer ’n industriële begraafplaas word. Die prys van verdere uitstel sal gemeet word aan fabrieke wat sluit, werksgeleenthede wat verlore gaan en geleenthede wat vir altyd verlore is.

Die VF Plus sal hom daarvoor bly beywer om ‘n gesonde vryemark-ekonomiese beleid in Suid Afrika te bevorder.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.