Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Graaff-Reinet sal vir die VF Plus Graaff-Reinet bly

Die naam Graaff-Reinet sal vir die VF Plus Graaff-Reinet bly en nie Robert Sobukwe Town nie. Die party doen daarom ‘n beroep op die mense van Graaff-Reinet, die groter Oos-Kaap en die res van Suid-Afrika, om hierdie naamsverandering te ignoreer.

Hierdie, en 20 ander geografiese naamsveranderings soos Oos-Londen na KuGompo City, is onlangs deur die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, in die Staatskoerant aangekondig.

Dit is nie net ‘n bewys van verkeerde prioriteite in die besteding van beperkte openbare fondse nie, maar is ‘n blatante voorbeeld van kulturele imperialisme waar die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner uitgewis word onder die voorwendsel van sogenaamde sosiale kohesie.

Dit het ‘n gewoonte geraak om van die Afrikaner alleen te verwag om sy geskiedenis op die altaar te plaas om ander tevrede te hou. Ons gaan dit nie meer doen nie.

Die VF Plus wil daarom vra dat mense vir wie die naam Graaff-Reinet waarde dra, getrou bly aan dié historiese naam wat deel is van almal in die land se gedeelde erfenis en nasionale identiteit.

Dit is reeds meer as dertig jaar sedert die aanvang van die nuwe politieke bedeling, en steeds word daar onnodig gekrap aan dinge soos naamsveranderings wat geen voordeel vir niemand bring nie.

Optrede soos hierdie skep verdeeldheid en mors belastinggeld, terwyl dringende probleme soos werkskepping, infrastruktuur en veiligheid geïgnoreer word.

Die VF Plus aanvaar Graaff-Reinet se naamsverandering nie en sal dit by die eerste geleentheid wat mag ontstaan, regstel.

Die naam Graaff-Reinet dateer na 1786 en is vernoem na Cornelis Jacob van de Graaff, ‘n Nederlandse goewerneur van die Kaapkolonie onder die VOC en sy vrou, Cornelia Reynet. In 1795 het burgers hulle van VOC-belastings losgemaak en die kortstondige Republiek van Graaff-Reinet gestig. Graaff-Reinet was ook die latere vertrekpunt vir die Groot Trek in die 1830’s.

Afrikaners en vorige regerings het in 240 jaar dit nooit verander nie, aangesien dit deel vorm van Suid-Afrika se kleurryke en veelvlakkige geskiedenis.

Dit sou niemand baat om uit die geskiedenis te probeer verwyder waarvan iemand dalk nie hou nie. Dit lei tot ‘n verskraling en skeefgetrekte beeld van almal se erfenis en skep onnodige verdeeldheid.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.