Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC misbruik dienslewering vir verkiesingsveldtog in Govan Mbeki

Dit is onaanvaarbaar dat die ANC misbruik maak van munisipale dienslewering in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Secunda, Bethal, Kinross, Evander, Trichardt, Leandra, Eendraght, Charl Cilliers) om politieke steun te werf vir die komende plaaslike regeringsverkiesing.

Padonderhoud is ’n basiese plig van die munisipaliteit en nie ’n guns of ’n veldtoginstrument nie. Tog verdraai die ANC hierdie verantwoordelikheid tot ’n middel om politieke kapitaal te bou.

Terwyl sekere strate, soos Walter Sisulu-straat, skielik herstel word onder die vertoon van ANC-regalia, bly die meerderheid paaie in woonbuurte in ’n toestand van verwaarlosing.

Münchenstraat in Evander, Wilton Nkwayi-Molo-straat, Solly Szane-straat en PDP Krugerstraat is vol slaggate wat voertuie beskadig en inwoners se veiligheid bedreig. Die sogenaamde herstelwerk bestaan uit herhaalde, tydelike vullings met doleriet, sonder enige volhoubare oplossing.

Die ANC het boonop die Secunda-stadion die komende naweek vir interne party-aangeleenthede en verjaarsdagvieringe gereserveer, terwyl plaaslike skole toegang geweier word vir interskole-atletiek.
e
Gemeenskapsbelange word tweede gestel, sodat die ANC sy eie beeld kan poets.

Hierdie selektiewe dienslewering wys dat die ANC sekere gebiede voortrek om stemme te werf, terwyl ander gemeenskappe aan die agterspeen suig.

Dit is niks anders nie as politieke opportunisme en kom ten koste van inwoners wat die reg het op veilige, goeie paaie en billike toegang tot gemeenskapsgeriewe.

Die VF Plus het reeds bewys dat aanspreeklikheid resultate bring toe die party ’n boom in ’n slaggat in PDP Krugerstraat geplant het om die probleem uit te lig. Dié slaggat is vinnig daarna herstel.

Dit toon dat die munisipaliteit kán optree, maar verkies om dit net te doen waar politieke gewin wink.

Die VF Plus sal seker maak dat die munisipaliteit onmiddellik sy pligte nakom en volhoubare padherstelwerk doen sonder politieke inmenging.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.