Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Stoffberg-duikweg: ’n ongeluk wat wag om te gebeur

Die voortdurende nalatigheid van die Ekurhuleni-metro om die Stoffberg-duikweg in Brakpan te herstel, skep ’n ernstige risiko vir motoriste en is ’n ongeluk wat wag om te gebeur.

Ten spyte van herhaalde waarskuwings en formele pleidooie van die VF Plus in Januarie nadat vloede die duikweg basies onbruikbaar gelaat het, is daar steeds nie met herstelwerk begin nie.

Daar is ook geen waarskuwingstekens aangebring om padgebruikers op die gevaar te wys nie.

Die party is veral bekommerd oor besoekers aan die dorp wat nie bewus is van die gevaarlike padtoestande nie.

Tydens ’n oorsigbesoek aan die duikweg op 5 Februarie was dit duidelik dat motoriste op ‘n gevaarlike wyse moet uitswaai en selfs soms op sypaadjies moet ry om die slaggate en die verweerde padoppervlak te vermy. Dit stel nie net voertuie bloot aan skade nie, maar ook voetgangers en kinders aan lewensgevaarlike risiko’s.

Ekurhuleni se versuim, ten spyte van kennis van die probleem, plaas die metro in ’n uiters kwesbare posisie en stel hom bloot aan regstappe vir skadevergoeding.

Die Johannesburgse hooggeregshof het in 2024 beslis dat die metro meer as R750 000 aan ʼn motorfietsryer moet betaal wat ernstig beseer is weens ‘n slaggat. Die hof het bevind dat die metro nalatig was deur nie die slaggat te herstel of waarskuwings aan te bring nie ten spyt daarvan dat die metro bewus was van die slaggat.

Die VF Plus het weer geskryf aan die burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, en die hoof van paaie en vervoer, Lehlohonolo Gomo, om te versoek om die aangeleentheid dringend aan te spreek.

Totdat die nodige herstelwerk en veiligheidsmaatreëls ingestel word, doen die VF Plus ’n beroep op motoriste om uiters versigtig te wees en alternatiewe roetes te gebruik waar moontlik en veral op voetgangers en skoolkinders in die gebied ag te slaan.

Die party sal aanhou druk uitoefen via die raad en ander kanale om te verseker dat die metro verantwoordelik optree en die veiligheid van inwoners en padgebruikers eerste stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.