Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Regering se traagheid en onbeholpenheid versnel Suid-Afrika se industriële agteruitgang

Die groeiende onsekerheid oor die toekoms van Suid-Afrika se motorvervaardigingssektor wek ernstige kommer en laat die vraag ontstaan of die regering doelbewus voete sleep met kritieke beleidsbesluite, of bloot nie die vermoë het om betyds op te tree nie.

Die motorvervaardigingssektor bly een van Suid-Afrika se belangrikste nywerhede. Dit dra 22,6% by tot die land se totale vervaardigingsuitset, lewer meer as 115 000 direkte werksgeleenthede en ondersteun sowat 500 000 poste in die groter waardeketting.

Boonop word byna 70% van plaaslik vervaardigde voertuie uitgevoer, wat ’n beduidende bydrae tot die land se uitvoerinkomste lewer.

Ten spyte van hierdie belangrike rol bly die regering traag om duidelikheid te verskaf oor die sektor se toekoms, terwyl nuwe uitdagings vinnig toeneem. Die opkoms van sogenaamde “WICKD”-produksie,waar voertuie feitlik volledig ingevoer en slegs finaal plaaslik saamgestel word, bedreig plaaslike komponentvervaardiging, werkskepping en tegnologiese ontwikkeling ernstig.

Hierdie onsekerheid, tesame met swak infrastruktuur, onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, logistieke probleme, hoë misdaadvlakke en stygende bedryfskoste, versnel Suid-Afrika se deïndustrialisering. Intussen bly die regering se nywerheidsbeleid agter by vinnige globale veranderinge, terwyl mededingende lande aggressief belê in hul eie motorsektore en dit beskerm.

Die feit dat 2026 as ’n maak-of-breekjaar vir die sektor beskou word, beklemtoon die dringendheid van die situasie. As die regering nie vinnig en beslissend optree nie, kan Suid-Afrika verdere beleggings verloor, duisende werksgeleenthede inboet en sy posisie as toonaangewende motorvervaardigingsentrum in Afrika prysgee.

Suid-Afrika het dringend ’n duidelike, mededingende en volhoubare motorvervaardigingsbeleid nodig wat plaaslike vervaardiging, tegnologie-ontwikkeling en werkskepping voorop stel.

Indien die regering nie die nodige politieke wil toon om hierdie besluite te neem nie, sal die gevolge nie net die motorsektor tref nie, maar Suid-Afrika se groter ekonomiese toekoms en industriële vermoë ernstig benadeel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.