Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se versuim om die Vereeniging-lughawe te onderhou, het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) die lughawe se lisensie gekanselleer het.
Hierdie stap het ʼn direkte en skadelike uitwerking op die lugvaartsektor in die streek en vererger die reeds brose ekonomie van die Sedibeng-distrik (Lesedi, Midvaal en Emfuleni).
Volgens regulasies moet lughawelisensies jaarliks hernu word, onderhewig aan streng ouditering en inspeksies. Versuim om aan hierdie vereistes te voldoen, kan tot boetes of selfs sluiting lei. In die geval van Vereeniging-lughawe was die gebrekkige omheining die hoofrede vir die stap.
Die BLO vereis ʼn veilige heining en die huidige, stukkende omheining wat onbeheerde toegang tot die terrein moontlik maak en die brandstofplaas in gevaar stel, is ontoereikend.
Verder is die landingsligte langs die aanloopbaan gesteel, wat nagvlugte onmoontlik maak. Diere beweeg vrylik op die terrein rond en riool vloei langs die geboue wat ʼn duidelike teken van verval en verwaarlosing is.
Alhoewel die distriksmunisipaliteit in Julie 2025 ʼn tender van R180 000 vir onderhoudswerk goedgekeur het, kon die VF Plus tydens ʼn onlangse oorsigbesoek geen teken van opknappingswerk vind nie.
Die VF Plus sal in die raad voorstel dat die lughawe tydelik gesluit word totdat alle herstelwerk, soos deur die BLO voorgeskryf, afgehandel is.
Die huidige nalatigheid hou die risiko in dat die vliegskool, wat die lughawe vir opleiding gebruik, sy kontrak kanselleer en elders hervestig.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die rioolstelsel, omheining, beligting en ander kritieke infrastruktuur te herstel en te onderhou.


